Local news

Brandkraanprojek werp vrugte af in Krugersdorp

Verskeie brandkrane is getoets en herstel om die gemeenskap veilig te hou.

Op 22 Junie het AfriForum se Krugersdorp-tak ’n suksesvolle brandkraanprojek in Krugersdorp gehou.

Volgens AfriForum-lid Sakkie van den Berg, was die doel van die projek om ’n veiliger en meer voorbereide gemeenskap te skep.

Hy vertel verder dat hulle ook brandkrane in Krugersdorp geïnspekteer het om te verseker dat hulle in ’n werkende toestand is.

Sakkie van den Berg en Conrad van Blerk toets ‘n brandkraan.

“Dit is noodsaaklik is vir vinnige en effektiewe brandbestryding. Die dag het bestaan uit die identifisering en toets van verskeie brandkrane. Patrolleerders het dan verseker dat elke brandkraan in ’n goeie toestand is en ook enige nodige herstelwerk genoteer. Die tak het verder 26 brandkrane skoongemaak, getoets en gemerk, een het ‘n lekasie gehad en daar was een wat glad nie gewerk het nie. Hierdie soort projekte is van kardinale belang aangesien goed funksionerende brandkrane noodsaaklik is vir die brandweer se vermoë om vinnig op brande te reageer,” het Sakkie bygevoeg.

Sakkie noem dat die sukses van hierdie projek nie moontlik sou wees sonder die harde werk en toewyding van verskeie individue en organisasies nie.

Conrad van Blerk werk aan ‘n brandkraan.

“Ons wil graag spesiale dank uitspreek aan al die patrolleerders wat betrokke was by die dag se aktiwiteite. Julle harde werk en toewyding is hoog op prys gestel en het grootliks bygedra tot die sukses van die dag. ’n Besonderse dankie gaan aan Sektor 3 vir die verskaffing van foto’s en inligting wat ons in staat gestel het om die dag se gebeure op ’n tasbare wyse te dokumenteer.

“Verder wil ons ook ons dank betuig aan die Friends of Emergency Services wat onbaatsugtig hulle tyd en hulp aangebied het om hierdie dag ’n sukses te maak,” het Sakkie afgesluit.

 
Back to top button