KYK: Winterspel sorg vir groot gees in Krugersdorp
Dros se Winterspel bring gemeenskap bymekaar om Afrikaanse musiek te ondersteun.
Dros het Saterdag, 22 Junie hul jaarlikse Winterspel gehou waar verskeie Afrikaanse kunstenaars opgetree het.
Die Krugersdorp News het die gewilde Afrikaanse musiekfees bygewoon wat ‘n hele parkeerarea in beslag geneem het. Daar was ‘n groot verhoog waar die kunstenaars opgetree het, met ‘n groot skerm wat die twee belangrike rugbywedstryde van die dag uitgesaai het.
“Ons het die jaar Anzelle, Pieter Smith, Dozi, Eloff, Riaan en Rooksein aangebied, waar omtrent 1 500 mense die vertoning bygewoon het. Dit was ook spesiaal omdat dit die Bokke se eerste toets vir die jaar was, waar mense ook gekom het om die Bokke te ondersteun,” het die Winterspel koördineerder, Leandri Pretorius, gesê.
Feesgangers het die dag vreeslik geniet deur te dans en sokkie voor die verhoog. Dozi het ook sy treffer Ou Ryperd gesing. Pieter Smith het gesê dat die dag vir hom vreeslik lekker was.
“Ek geniet dit vreelik om in Krugersdorp op te tree, en na 25 jaar se vertonings en optredes wat ek gedoen het, sien ek ou gesigte wat altyd na my vertonings kom kyk, en die is een van die lekkerste plekke om te kom sing,” het Pieter afgesluit.