Local news

Klassieke motors pronk vir Vadersdag

KCCA bederf hul bejaardes met 'n klassieke motorskou vir Vadersdag en 'n bekende se teenwoordigheid.

Die Krugersdorp Council for the Care of the Aged (KCCA) het op Vrydag, 14 Junie Vadersdag met ‘n motorskou saam die bejaardes gevier.

Volgens bestuurder by die sentrum, Kobus Garbers, doen hulle elke jaar iets vir Vadersdag, waar hulle dit vanjaar spesiaal gemaak het deur ‘n motorskou aan te bied. Hy het bygevoeg dat die vroue ook soos mans aangetrek het om Vadersdag te vier.

Hennie Roodman in sy 1963 Chevrolet Biscayne.

“Die gemeenskap het uitgereik en ons bedank hulle daarvoor. Ons is ook dankbaar vir die Late Crate Motor Association (LCMA), die skenkers, die munisipaliteit en EC Sekuriteit. Ons waardeer dat almal moeite gedoen het om die dag spesiaal te maak vir die bejaardes,” het Kobus gesê.

Die Krugersdorp News het ook die skou bygewoon waar daar ‘n verskeidenheid klassieke motors was. Daar was selfs ‘n paar motorfietse wat amper ‘n 100 jaar oud is.

Susan Koekemoer in haar 1960 Morris Minor.

Dries de Jager het gesê dat hy dit vreeslik geniet het om dié tipe motors te sien en dat sy gunsteling die sesde-generasie 5lt Ford Mustang en die Chevrolet SS is.

Louise de Jager het bygevoeg haar gunsteling motor is die 1963 Chevrolet Biscayne.

At Teessen en Bertus Grobler geniet die skou.

“Dit was lekker om saam die sentrum hier te wees en dit is lekker om te sien hoe die bejaardes die dag geniet,” het lid van die LCMA, Johan van Biljon, gesê.

Johan van Biljon op sy Yamaha motorfiets.

Nadat die bejaardes na die motors gekyk het, was daar heerlike braaivleis, wyn en ‘n sanger wat vir hulle in die eetsaal gewag het. Verder was daar ook lekker gedans en ‘n bekende gesig, die akteur David Rees, wie die bejaardes met sy teenwoordigheid verras het.

Michaela Mchelland en Denise van der Merwe is aangetrek soos mans.

“Dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap gee, en hoe die bejaardes dit geniet,” het David afgesluit.

Back to top button