Local news

Gewilde uitsaaier en taalkenner sterf op 85

'n Jarelange inwoner van Mindalore wat onder andere meer as 500 krieketwedstryde uitgesaai het is op 85 oorlede.

Edwill van Aarde, ‘n taalkenner en gewilde uitsaaier wat nog al die jare ‘n inwoner van Mindalore is, is onlangs in die ouderdom van 85 oorlede.

Volgens sy dogter, Antoinette van Aarde, het haar pa omstreeks 21:45 op 3 Januarie gesterf. Hy laat sy vrou, Piena, met wie hy reeds in September 60 jaar lank getroud was, sy seun en dogter, Cobus en Antoinette, asook ses kleinkinders en twee agterkleinkinders agter. Hy het die afgelope 50 jaar in dieselfde huis in Krugersdorp gebly.

“Hy is nog al die jare woonagtig in Flettnerstraat en het op talle terreine terwyl hy betrokke was in die uitsaaiwese ‘n groot bydrae gelewer tot die bevordering van Afrikaans,” het Antoinette gesê.

Op sportgebied sal Edwill veral onthou word vir sy krieketkommentaar en hoe hy met die hulp van kykers Afrikaanse weergawes vir Engelse terme geskep het. Hy het kommentaar gelewer oor ongeveer 20 ander sportsoorte soos rugby, boks, die Comrades en gimnastiek.

Edwill het die eerste kort toer na Indië in 1991 meegemaak toe SA hertoegelaat is tot internasionale krieket. In Kolkata het hy Moeder Theresa ontmoet en ook die bekende Taj Mahal besoek. Daarna het toere na Sri Lanka in 1993 en Engeland in 1994 gevolg. Hy was ook die eerste Afrikaanse kommentator wat op TV vanaf die hoofkwartier van krieket, Lords, uitgesaai het. Met die uitsending van sy 500e wedstryd het hy ‘n goue ornamentele staanhorlosie van die Verenigde Krieketraad ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans.

Hy het in totaal 517 krieketwedstryde uitgesaai.

Edwill het van 1976 tot 1986 ‘n totaal van 176 uitsendings van Flinkdink aangebied. Hy het ook daarin geslaag om die program in 2003 terug te bring waar hy navorser en organiseerder was. Ook hier het hy Afrikaans bevorder deur vrae te vra oor byvoorbeeld idiome, korrekte spelling, skrywers, boeke en musiek in Afrikaans.

Dit is egter op die gebied van Afrikaanse musiek dat Edwill homself onderskei het. Hy het sedert 1975 ‘n totaal van 904 uitsendings van Afrikaanse Treffers aangebied en ongeveer 430 kunstenaars se musiek gespeel en bekendgestel. Talle latere groot name soos Rina Hugo, Randall Wicomb, Janita Claassen en Annelie van Rooyen is heel eerste in dié program gehoor en het dit ‘n groot bydrae gelewer tot hul bekendheid en plateverkope.

Edwill is deur talle instansies vereer: Eerstens met die ATKV se gesogte Oorkonde in 1981, gevolg deur nog 17 toekennings en benoemings deur onder andere die Rapportryers en destydse Artes en talle Goue Plate deur musiekmaatskappye.

In 2003 het hy ‘n toekenning van Steve Hofmeyr ontvang tydens ‘n konsert Die nag van die Legendes toe hy die enigste uitsaaier was onder ‘n aantal sangers en sangeresse wat met dubbel-platinum plate vereer is. Op 6 Mei 2005 was hy een van slegs 58 persone landswyd wat deur die ATKV vereer is as ‘n Afrikoon deurdat hy sy kennis en kundigheid op musiek-, taal- en sportgebied aangewend het tot die voordeel en uitbou van Afrikaans.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button