Antonie uitasem en kort die publiek se hulp

Na 50-jaar as roker het Antonie Müller se longe begin ingee. Al wat hy wil doen is om weer ordentlik asem te skep.

Antonie Müller smag daarna om net weer genoeg suurstof in sy longe te hê om daaglikse take maklik te kan verrig, maar hy weet dat God vir hom sal sorg.

Die 72-jarige Antonie het vertel dat hy deesdae nie eers een vertrek se vloer kan was sonder dat hy moet gaan sit om weer sy asem terug te kry nie. Hy het die Krugersdorp News vertel dat hy nie regtig weet wat fout is met hom nie, maar vermoed dit is ‘n kombinasie van asma en emfiseem.

“Ek het baie gerook toe ek jonger was. Ek het vir 50 jaar lank gerook.”

Hy het drie jaar gelede opgehou rook toe dokters vir hom vertel dat dit net sy asemhalingsprobleme erger gaan maak.

“Maar die skade was klaar gedoen. Jy maak jouself dood,” het hy mismoedig gesê.

Antonie is al sy hele lewe lank in Krugersdorp en ontvang nou behandeling vir sy longe in dieselfde hospitaal waar hy gebore is – Dr Yusuf Dadoo Hospitaal, alhoewel dit 72 jaar gelede as Krugersdorp Hospitaal bekend gestaan het en toe later in die apartheidsjare as Paardekraal Hospitaal.
Antonie was ‘n ketelmaker vir baie jare en erken dat hy so nou en dan van die pad af gewandel het en nie altyd die gesondste of beste keuses gemaak het nie.

Hy het egter ook onlangs na die Here gedraai en bid elke dag om dankie te sê vir nog ‘n dag.

“Wanneer ek regtig sukkel dan gooi ek my hande op en bid vir die Here om die lug terug te sit in my longe.”

Op die stadium gee die hospitaal vir hom pompies en medikasie om mee te stoom. Al maak dit sy longe oop, gee dit hom nie die verligting wat hy nodig het nie. En wanneer dinge die dag te erg raak, gaan hy hospitaal toe en dan gee hulle vir hom suurstof.

“Wanneer ek suurstof gebruik kan ek hierdie hele veld omspit,” het hy laggend vertel.

Selfs sy lyf vertel die verhaal van ‘n suurstof tekort omdat sy bene bedek is met donker kolle as gevolg daarvan.

Omdat Antonie net ‘n staatspensioen ontvang is dit onmoontlik vir hom om die R7 000 bymekaar te maak om ‘n suurstofmasjien te koop. Maar hy hoop dat daar ‘n barmhartige Samaritaan daar buite is wat hom op een of ander manier sal kan help.

Vir nou vat hy dit net een dag op ‘n slag en een asemteug op ‘n keer.

Indien jy vir Antonie wil help in enige manier, skakel hom gerus by 071 8570 750.

Exit mobile version