Local newsUpdate

Klein Janelle ‘n besige bytjie ten spyte van hartsiekte

Nadat die News oor klein Janelle en haar hartsiekte verslag gelewer het, is haar ma en pa steeds opsoek na 'n oplossing om haar lewe te red.

Die Krugersdorp News het onlangs verslag gelewer oor die tweejarige Janelle Volschenk wat ‘n seldsame hartdefek het. Haar familie is steeds desperaat om vir haar die nodige behandeling te kry.

Haar ma, Riekie van der Mewe, het onlangs met die News gesels oor Janelle se toestand asook die jongste verwikkelinge, maar ongelukkig het dinge nog nie veel verander nie.

“Dit is nog dieselfde. Dit is net, as sy te aktief is, dan klop haar hart vinniger en sy is kort van asem,” het Van der Merwe verduidelik.

Na die aanvanklike berig oor Janelle het die familie oor die R8 000 op hulle Backabuddy-veldtog ingesamel. Hulle is egter nog nie seker hoeveel die toetse en doktersafsprake gaan kos nie.

• Also read: Help so vir kleine Janelle

Die familie het in September 2022 die nuus ontvang dat daar niks is wat medici in die binneland verder vir Janelle kan doen nie. Die familie is toe aangeraai om Kaap toe te gaan om met spesialiste daar te gaan gesels.

Volgens Van der Merwe het Janelle ‘n gaatjie in haar hart en die pypies wat van haar hart na haar longe gaan het ook nie mooi ontwikkel nie. Daar is toe vasgestel dat sy met ‘n pulmonêre atresie en interventrikulêre defek gebore is. Hierdie tipe atresie beteken dat die pulmonale klep en sy takke baie klein is, of selfs nie bestaan nie. Sy het ook ‘n onderontwikkeling van haar regter uitvloei hartkanaal en arteriese pulmonêre klep.

“Ons het met mense gepraat van die Kaap wat glo deur dieselfde is. Hulle het voorgestel ons Janelle na die hospitaal vat wat hulle gehelp het. Die vrou het gesê sy sal met dokters aan daardie kant praat, maar ons wag nogsteeds om van haar te hoor.”

Sy het bygevoeg dat soveel mense na die eerste artikel vir hulle boodskappe van ondersteuning en hoop gestuur het, maar dat hulle letterlik nie veel hulp ontvang het nie.

“Om eerlik te wees, nog niks het verander nie, alles is nogsteeds dieselfde. Ons voel soos altyd … bang, verlore, moedeloos en angsbevange.”

Janelle hou daarvan om saam met haar broer Alex te speel, of dit nou met karretjies of poppe is.

“As pappa geldjies het dan koop hy maar vir Janelle en haar boetie iets, maar dit is nie gereeld wat ons kan koop nie.”

Die klein dogtertjie is ook nog nie in ‘n kleuterskool nie omdat Van der Merwe maar nog skrikkerig is om haar êrens te los waar sy nie self ‘n ogie oor haar kan hou nie. Vir Kersfees wil Janelle se pa, Jan Volschenk, kyk of hy vir haar ‘n pophuis en kombuis-stelletjie kan kry omdat sy so baie daarvan hou.

“Ons vat maar elke dag soos dit kom en volgens God se wil. Ons sukkel maar ons maak die beste van elke dag.”

Sy het vertel dat die ondersteuning wat sy van Jan af kry haar ook deur die moeilike tyd dra.

“Hy staan my by met alles. Hy doen hy ekstra werkies oor naweke om vir ons te sorg.”

Die familie se fokus lê nogsteeds by Janelle, en om ‘n spesialis in die hande te kry wat die klein dogtertjie se hartjie kan reg maak.

Besoek haar Back a buddy hier.

Back to top button