Local newsSchools

Nories voorspel ‘n Bok-oorwinning

Laerskool Krugersdorp-Noord se onderwysers en leerders het bietjie gees gevang en hul eie wêreldbekereindstryd gehou te ondersteuning van die Springbokke kort voor hul groot kragmeting met die All Blacks.

Laerskool Krugersdorp-Noord staan bankvas agter die Springbokke en om die kinders in die regte gees te kry vir die wêreldbekereindstryd het hulle in die week ‘n Bokke Geesvang dag gehou.

Behalwe dat al die leerders Springbokhemde skool toe kon dra tydens ‘n geesvang periode, was daar ook ‘n rugbywedstryd met ‘n egte toets-atmosfeer wat plaasgevind het.

Die All Blacks is reg vir die Bokke.

Die leerders is eers verwelkom deur die rasieleiers (onderwyseresse) wat saam ‘n Springbokliedjie gesing en dans het.

Daarna het ‘n naelbyt rugbywedstryd tussen die ‘Springbokke’ en ‘All Blacks’ plaasgevind. Die ‘Springbokke’ was in hul groen en goud deur die juniors verteenwoordig met die seniors wat die All Blacks verteenwoordig het. Voor die wedstryd het die Springbokke eers hul opponente probeer intimideer met hul eie ‘haka’. Die fokus van hul ‘haka’ was op braai en biltong.

Die eerste drie van die wedstryd.

Die All Blacks het toe afgeskop maar die Springbokke het eerste balbesit geniet. Na ‘n paar minute se spel teen die kantlyn af het die skeidsregter toe balbesit vir die All Blacks gegee. Dit is toe dat daar besluit is om nuwe energie in te bring deur die ‘Bomb Squad’ op te stuur. Dié manne het juis die verskil gemaak, veral ‘Faf de Klerk’, ‘n rol wat deur ‘n onderwyser wat ‘n pruik dra, gespeel is. ‘n Paar drieë later was dit die Springbokke wat as wenners uitgetree het en dus as wêreldbekerkampioene aangewys is. ‘Faf’ was natuurlik die man van die wedstryd.

Soos in elke westryd wonder sy ook hoe die skeidsregter daai een gemis het.

Ten slotte het die rasieleiers weer ‘n dans gedoen en die hele skool het op die veld gehardloop om saam met die hoof en onderwysers heerlik op egte Suid-Afrikaanse musiek te dans.

Rassie het sy ligte saamgebring.

As vandag (Oktober 28) se Rugby Wêreldbekereindstryd enigsins iets soos Nories se geesvang is, gaan die Bokke beslis die beker huis toe bring!

Back to top button