Klein Janelle veg elke dag vir haar lewe

Die toekoms van 'n tweejarige is onseker nadat dokters laat weet het dat daar niks is wat hulle vir haar kan doen nie.

Riekie van der Merwe en haar familie voel verlore nadat dokters aan hulle bevestig het daar niks is wat hulle aan haar tweejarige dogtertjie se hartsiekte kan doen nie.

Van der Merwe (39) het aan die Krugersdorp News vertel dat sy dit deesdae net een dag op ‘n slag vat en die oomblikke saam haar dogtertjie, Janelle Volschenk, ten volle waardeer.

Janelle is op 23 April 2021 in die Dr Yusuf Dadoo Hospitaal gebore. Van der Merwe verduidelik dat hulle haar klein babadogtertjie dadelik weggeneem het na geboorte, en toe hulle na 30 minute nog nie haar baba vir haar teruggebring het nie, het sy navraag gedoen.

Janelle was in ‘n broeikas geplaas weens ‘n suurstof tekort wat sy gehad het. Mamma is later ontslaan maar baba moes nog ‘n week in die hospital spandeer.

Dieselfde jaar is sy talle kere opgeneem nadat haar linker long platgeval het en sy Covid-19 opgedoen het.

Van der Merwe was siek van bekommernis omdat haar babadogtertjie nie genoeg suursof gekry het nie en dokters by Yusuf Dadoo nie aan haar kon verduidelik wat fout was nie.

Tydens een van haar hospitaalbesoeke het Janelle begin huil en haar gesiggie het blougrys begin word. Dokters het vermoed sy het asma, maar toetse het dit verkeerd bewys waarna hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat dit ‘n hart probleem kan wees.

‘n Dokter het gevra of sy ‘n video van Janelle mag neem wanneer sy huil en haar gesig blougrys word sodat dit aan ander spesialiste gestuur kan word om te analiseer. Nadat ‘n spesialis van Leratong Hospitaal die video gekyk het, het hulle laat weet dat sy na die Rahima Moosa Mother and Child Hospitaal oorgeplaas moet word.

Daar het ‘n sonar gewys dat dit wel Janelle se hart was. Sy het ‘n gaatjie in haar hart en die pypies wat van haar hart na haar longe gaan het ook nie mooi ontwikkel nie en daar is vasgestel dat sy met ‘n pulmonêre atresie en interventrikulêre defek gebore is. Hierdie tipe atresie beteken dat die pulmonale klep en sy takke baie klein is, of selfs nie bestaan nie. Sy het ook ‘n onderontwikkeling van haar regter uitvloei hartkanaal en arteriese pulmonêre klep.

In September 2022 is die familie na die Nelson Mandela kinderhospitaal gestuur waar dokters hulle ingelig het dat daar niks is wat hulle vir Janelle kan doen nie.

“Hulle het gesê ons moet maar net elke dag dankie sê sy lewe. Ons weet nie hoe lank sy gaan lewe nie en of sy ‘n normale lewe sonder komplikasies gaan hê nie.”

Maar die familie het hoop, daar is ‘n hospitaal in die Kaap wat hulle dalk kan help. Ongelukkig het hulle nie die finansies om tot in die Kaap te kom nie.

“Ek voel so moedeloos met die dokters die kant. Ons weet nie eers of ons suurstof by die huis moet hê of hoe om haar suurstof te monitor nie.”

Van der Merwe kan nie gaan werk nie omdat Janelle voltydse toesig nodig het. Sy wil weet wat gaan gebeur wanneer Janelle ouer word, en moet skool toe gaan.

“Vir nou kan ons maar net bid,” het die moedelose ma gesê.

Die News sal in ‘n opvolg-berig meer oor die dogtertjie se spesifieke defek uitbrei en met mediese kenners daaroor raadpleeg. Daar sal ook verdere navorsing gedoen word oor watter tipe hospitale en dokters met hierdie spesifieke defekte kan help. Enigiemand wat wel die familie intussen wil help kan gerus ‘n e-pos na natashap@caxton.co.za stuur.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version