Help Paasfees spesiaal maak saam met Ray of Hope

Die Ray of Hope-organisasie wil graag 200 kinders bederf vir Paasfees maar hulle kort jou hulp.

Behoeftige inwoners van Krugersdorp-Wes kan nou elke Vrydag ‘n lekker warm bord kos by die Ray of Hope-organisasie gaan optel.

Natasha Engelbrecht van dié organisasie het vertel dat hulle dit die ‘Friday Food Drive’ noem. Hulle voer elke Vrydag so 150 mense maar die getal hou aan styg soos wat die nood styg.

Sy het verduidelik dat hulle op Vrydae kos uitdeel omdat van die mense oor naweke nie kos het nie. Daar is ander organisasies in die area wat op ander dae ook kos uitdeel en hulle het ‘n gaping gesien op ‘n Vrydag.

Ray of Hope se Paasfunksie in 2022. Foto ingestuur.

Bo en behalwe die weeklikse kos het hulle ook saam met die RSC-kerk hande gevat om eenkeer ‘n maand ‘n draai by haweloses in die area te maak. Die doel is om hulle ‘n boodskap van hoop te gee asook saam met hul lofsang te doen.

Van die kos wat jy op ‘n Vrydag kan verwag sluit in kerrie en rys, pap en hoender en selfs makaronie en kaas. Die warm kos word vanaf 14:00 uitgedeel.

Natasha het verduidelik dat hulle wel borge het wat hulle help met groente en so aan maar elke bietjie ekstra hulp sal altyd waardeer word.

Die lekkernye wat Ray of Hope in 2022 aan die kinders uitgedeel het. Foto ingestuur.

Hulle hou ook op 8 April ‘n paaseier-jagtog vir so om en by 200 kinders. Nie net is daar lekkernye nie maar elke kind sal ook ‘n worsbroodjie en koeldrank ontvang. Hulle kort egter nog vrywilligers om op die dag te help sowel asook 400 ysies, gesigverwers, 200 pakkies lekkernye, 200 worsies, 200 paaseiers, linte, plastieksakke, leë toiletrolle en 200 papierborde.

Natasha het gesê dat hulle ‘faith like potatoes’ het dat hulle die skenkings betyds sal kry.

Indien jy die organisasie wil help kan jy hulle kontak by 010 035 5210 of 010 035 5214. Eposse kan ook na info@rayofhope.co.za, arayofhope212@gmail.com of arayofhope213@gmail.com gestuur word. Alternatief kan skenkings by die JDQ gebou te Commissionerstraat 236 afgegee word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version