‘Swendelary algemeen in Krugersdorp’

Met die feesseisoen om die draai wou die West Rand Business Chamber seker maak dat besighede en die gemeenskap bewus is van die verskillende tipes bedrog daar buite.

Die West Rand Business Chamber (WRBC) het onlangs hul jaar afgesluit en besluit om sommer van die geleentheid gebruik te maak om besigheids eienaars, asook die publiek, bedag te maak oor die gevare van bedrog.

Johan Grobler, of Grobbies soos hy bekend is, van New Era Risk Management het die groep kom toespreek op Maandag, 14 November. Hy het vertel dat dit Internasionale Bedrogweek was en dat sy maatskappy met baie bedrogsake in Krugersdorp werk. Veral met die feesseisoen om die draai wou hulle seker maak dat besighede en die gemeenskap bewus is van die verskillende tipes bedrog daar buite.

Hy het gesê swendelary is baie algemeen veral in Krugersdorp en dat die publiek nie moet dink dit sal nie met hulle gebeur nie.

“Die mense is professioneel, onthou dit is al wat hulle doen.”

Grobbies het vertel dat die publiek spesiaal op die uitkyk moet wees vir advertensies wat spesiale pryse het, en het gesê as dit te goed lyk om waar te wees is dit tien teen een.

Dennis Pretorius, die hoof uitvoerende beampte van die WRBC, het verduidelik dat hulle elke maand so ‘n bymekaarkoms vir besigheids eienaars hou om te netwerk. Die keer het hulle dit wel bietjie anders gedoen omdat Grobbies versoek het dat hy die groep oor bedrog wil toespreek.

“Ons het gedink ons gee hulle die geleentheid sodat mense kan leer oor die gevolge van bedrog en hoe om dit aan te meld.”

Hy het gesê dat bedrog almal geld kos en dat besighede al bankrot verklaar is as gevolg van bedrog en dat hulle soms nie eers agterkom dat hulle gevang is tot dit te laat is.

Die grootste probleem vir Mogale besighede, het Dennis vertel, is finansiële beheer.

“As hulle nie kan aanpassings maak gegewe die omstandighede nie dan gaan hulle sukkel,” het hy vertel en bygevoeg dat sommige besighede net van maand tot maand oorleef.

Hulle het op die stadium 267 besighede wat aan die WRBC behoort en as daar nog besighede is wat wil aansluit kan hulle net gekontak word dan sal hulle verduidelik wat die voodele is om aan die organisasie te behoort.

Die WRBC sal weer in Januarie ‘n netwerk-aand hê.

Exit mobile version