Oud-Krugersdorper breek die internet met sy Koue Pizza

Ontmoet die nuwe sangsensasie, Ilán van Staden, wat almal weer verlief gemaak het op koue pizza.

Die warm nuwe sangsensasie, Ilán van Staden, is mal oor koue pizza! Soveel so, dat hy besluit het om sy eerste solo-vrystelling Koue Pizza te noem.

Hierdie ongelooflike aantreklike, veelsydige en talentvolle nuweling, oorspronklik van Krugersdorp, het onlangs vir homself naam gemaak nadat hy ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek geteken het, én ’n rol losgeslaan het in die treffer-teaterproduksie, Die Gelofte:’n Musiekblyspel.

Sy eerste radiovrystelling, Soen My Op My Mond, ’n duet met Bernice West, wat spesifiek vir Die Gelofte geskryf is, was en is steeds ’n treffer op radiostasies landswyd.

Ilán se eerste enkelsnit, wat met ’n tipiese college-pop-rock aanslag spog, is ’n goedvoel-liedjie waarby die meeste luisteraars sal aanklank vind aangesien dit die storie vertel van waar liefde en pizza ontmoet.

“Almal weet van daai een laaste koue stukkie pizza wat oorbly die volgende oggend na ’n aand uit of ’n bymekaarkoms by die huis. Ek het destyds gedurende inperking wakker geword en so ’n laaste stukkie het vir my gelê en wag in die kombuis. Daardie stukkie was so lekker die volgende oggend dat ek ’n liedjie daaroor geskryf het,” verduidelik hy.

Die musiekvideo van Koue Pizza vertel die storie van ’n bakker, ’n hopelose romantikus, wat alles op die spel plaas wanneer hy verlief raak op ’n kliënt.

“Die video is vervaardig deur Jannes Erasmus en Dan Rademeyer vir Inhoud Huis Musiek en is in Pretoria by Bakehouse en Val-De-Grace verfilm. Buiten vir wonderlike karakterontwikkeling, gee die video ook fyn humorsin deur,” sê Ilán.

Vandat hy kan onthou, wou Ilán nog altyd musiek maak. Hy het by Laerskool Horison en Hoërskool Florida skoolgegaan en as kind het hy sy ouers se potte en panne geslaan met paplepels totdat hulle hom uiteindelik vir kitaar- en dromlesse geneem en as tiener het hy begin musiek skryf en saam met sy skoolorkes optree. Verder was hy ook dromspeler en mede-komponis van verskeie Sêr-groepe op universiteit – hy het sy meestersgraad in omgewings- en biologiese wetenskappe aan Noordwes-Universiteit behaal in 2019 – terwyl hy op elke geleentheid wat hy kon kry saam met musiekgroepe in Potchefstroom opgetree het.

Sedertdien werk hy hard daaraan om sy musiekvaardighede op te skerp en die beste te maak van elke geleentheid wat hy kry. Hy was ’n semi-finalis in die derde seisoen van The Voice SA en het van dié prestasie gebruik gemaak deur soveel vertonings moontlik te doen.

’n Telefoonoproep in Januarie 2022 het sy lewe vir altyd verander.

“’n Dekade se gebede is daardie dag beantwoord,” sê die 26-jarige musikant. “Nie net het ek ’n platekontrak gekry nie, maar ek het ook ‘n hoofrol losgeslaan.”

Vir Ilán was dit ’n ongelooflike ervaring om deel te wees van Die Gelofte, omdat dit hom help ontwikkel het op ’n persoonlike en professionele vlak. Na 63 uitverkoopte vertonings, kan hy nou op sy eerste album, Ontlaai, fokus wat vroeg in 2023 vrygestel sal word. Verder is hy ook deel van die lofprysings-inisiatief, The Shelter.

Hy beskryf homself as “’n doodgewone ou van Krugersdorp wat lief is vir sy ma en pa”, en sy pad in geloof stap. “Ek beskou my hele lewensreis as ’n storie wat God vir my geskryf het. Sy voorsiening lei tot nuwe bladsye in my lewensboek, en my keuses bepaal wat op daardie blaaie geskryf staan.”

Soos baie ander jongmense oor die algemeen, het Ilán ook al baie gewonder oor sy passie en plek in die wêreld.

“Vir my was dit ’n groot uitdaging om uit te vind wie ek is in die bedryf, wat ek wil bereik, wat my doel is, waarvoor ek staan en wat ek wil maak met dit wat in my hande geplaas is. Deel van my reis was om weg te breek van roetine en uit my gemaksone te tree. Ek het besef dat as ek my manier van dink verander van ‘wat as dit nie uitwerk nie’ na ‘wat as dit uitwerk’, sal God die res doen.”

Inspirasie kry hom ook soms op die vreemdste maniere beet, sê hy: “Alhoewel die meeste van inspirasie in geloof gesetel is, wat hoop en entoesiasme by my kweek, is party van die liedere gesprekke tussen my en God. Ander kere dink ek aan iets snaaks in die verlede of sien ek iets interessant in die hede wat my laat skryf. Natuurlik maak ek ook baie keer scenario’s in my kop op of word ek in die middel van die nag wakker met lirieke of ’n melodie wat ek moet neerpen. Ek hou daarvan om te skryf oor goed waarmee mense kan vereenselwig. Dit bring samehorigheid.”

Maar, Ilán het reeds waardevolle lesse in die bedryf geleer. “Een van die lesse wat vir my uitstaan, is dat om musiek te maak en in die vermaakbedryf te werk twee verskillende goed is. Ek is gefassineer deur die vlak van strategie en sielkunde wat betrokke is by die skep van ’n liedjie en dit is baie opwindend om te sien hoe dit ontwikkel,” sê hy.

Daar is heelwat kunstenaars vir wie hy groot bewondering het en saam met wie hy graag sou wou werk.

“Sedert ek Riaan Benade se stem vir die eerste keer gehoor het, wou ek graag saam met hom werk. Dit sal ook ’n voorreg wees om kragte saam te span met sangers soos Demi Lee Moore, Matthew Mole, Will Linley, Die Heuwels Fantasties en Elandré. Alhoewel ek en sy reeds ’n liedjie saam vrygestel het, sal dit heerlik wees om in die toekoms weer saam met Bernice West te werk.”

Hy bestuur ook ’n musiekskool wat hy vier jaar gelede in sy ouers se spaarkamer begin het. Die besigheid het sedertdien aansienlik gegroei en deesdae is daar ’n hele span musiekonderwysers onder sy vlerk. Saam, bied hulle weekliks kitaar-, klavier-, drom- en sanglesse aan. Hy sien verder ook vreeslik uit daarna om die land plat te toer, na die vrystelling van sy eerste album.

Ilán van Staden. Foto ingestuur.
Ilán van Staden. Foto ingestuur.
Ilán van Staden. Foto ingestuur.
Exit mobile version