Chamdorweg: Dit is ongeluk na ongeluk weens lang gras

Ongelukslagoffer waarsku ander motoriste om waaksaam te wees wanneer hulle Chamdorweg oorsteek.

Enigiemand wat al Chamdorweg probeer oorsteek het weet dat jy nie net twee keer moet kyk nie maar minstens agt keer voor jy dit kan waag.

Erika Muller was onlangs die slagoffer van hierdie pad al het sy drie keer gekyk of dit veilig is.

Op 21 April net na 07:00 was sy op pad werk toe en het uit Surreystraat probeer om Chamdorweg oor te steek.

Ek het twee keer gekyk en weer gekyk. Ek ken die pad daarom het ek seker gemaak dit is veilig om oor te steek. Ek het niks gesien nie,” het sy vertel.

Toe sy egter die pad kruis het ‘n ander kar haar van die kant af getref. Haar kar het toe in ‘n polisievoertuig vasgeswaai.

Gelukkig vir Erika is sy nie ernstig beseer in die ongeluk nie maar haar Renault Kwid is afgeskryf.

Sy het vertel dat daar na haar ongeluk ook nog minstens twee ongelukke op die hoek was, en toe die News die toneel besoek het, het daar wrakstukke van ‘n onlangse ongeluk langs die pad gelê.

Erika Muller wys waar sy die pad probeer oorsteek het.

Erika het ‘n hele paar probleme met die pad uitgewys. Die grootste probleem is dat die gras en bome nie gesnoei word nie, en wanneer jy uit Surreystraat die pad wil kruis kan jy nie die aankomende verkeer in Chamdorweg sien nie. Die bestuurders wat van Kagiso af kom kan ook nie om die draai sien dat ander voertuie wag om die pad oor te steek nie.

Die pad is ook vreeslik besig en daar is nie padtekens wat die spoedgrens op Chamdorweg aandui nie, dus jaag baie mense op die pad.

Daar is ook nie straatligte nie, wat dit saans nog moeiliker maar om die pad veilig te kruis.

Ander inwoners het ook aan die News vertel dat hulle al menige male gevra het dat die gras by die kruising en in die area daar rondom gesny word. Daar is op die hoek gesny maar soos Erika uitgewys het moet dit dieper in oopgesny word sodat mens die aankomende verkeer kan sien.

Die bome veroorsaak dat mens nie aankomende verkeer duidelik kan sien nie.

Sy het voorgestel dat ‘n vierrigtingstop by die kruising aangebring word sodat voertuie stadiger kan ry en voetgangers en motoriste veiliger oor die pad kan kom.

Dit is ongelukkig die pad waarmee Erika werk toe ry, en sy het vertel dat sy na die ongeluk baie versigtiger is wanneer sy die pad oorsteek. Sy wil graag ook ander motoriste waarsku om waaksaam te wees by die kruising, asook by die deel waar Hompesstraat Chamdorweg kruis.

Wrakstukke van nog ‘n ongeluk lê by die kruising. Foto: Natasha Pretorius.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version