Local newsNewsUpdate

West Village-tragedie: ‘Dit is die munisipaliteit se nalatigheid’ – Botha-gesin

Ouma vertel van aand toe sy nie haar kleinseun kon red tydens 'n brand in West Village nie.

Op haar sitkamerbank sit Linda Botha en vertel van die leemte in haar huis en in haar hart nadat sy nie haar kleinseun van ‘n vuurdood kon red nie. Vir maande al sukkel West Village met waterprobleme en daardie oggend was die krane droog.

Anton Botha, wat op 23 Mei 24 jaar oud sou word, sal nie sy verjaarsdag saam met sy geliefdes kan vier nie. Die buitekamer waarin hy geslaap het, het op Donderdag, 18 Mei aan die brand geslaan en dit het Anton se lewe gekos. Linda glo vas dat as daar daardie oggend water in die krane was, sou sy die veiligheidshek kon oopkry en haar kleinseun red.

Lees ook: As daar tog net water was sou hy geleef het …

Ek sou hom aan sy voete uitsleep as ek moes,” het sy aan die News vertel.

Janine Nagel, Anton se tannie, noem haar ma ‘n heldin. Amper ‘n week later het Linda steeds die brandwonde wat getuig hoe sy vir haar kleinseun se lewe geveg het.

Anton is in Krugersdorp gebore en het by sy ouma grootgeword in die huis waarin hulle al amper 23 jaar bly. Linda het vertel dat Anton ook maar verkeerde keuses in die lewe gemaak het en met dwelms deurmekaar was. Hy het in die buitekamer geslaap en dit is juis waar hy sy lewe verloor het.

Sy en haar kleinseun kon lekker vassit maar sy het vertel dat sy baie lief was vir hom en hy vir haar. Wanneer hy ‘n werk gekry het en geld verdien het, het hy gereeld vir haar sjokolade of ander bederfies gebring.

Anton Botha het sy lewe verloor in die brand. Foto ingestuur.

Die oggend van Anton se dood het Janine en Linda ‘n geskree gehoor en gedink dat Anton probleme met iemand gehad het. Hulle het uitgehardloop om te gaan help maar toe Linda buite kom het sy gesien dat die agterste muur van die kamer aan die brand was.

Linda het vertel dat sy vir hom gesê het “Toemaar, ouma gaan jou nou help”.

Die houtdeur was oop maar die veiligheidshek was gesluit, en Linda het vir Janine geskree om die spaarsleutel te bring.

My ma het alles probeer maar die sleutel wou nie pas nie,” het Janine verduidelik.

Linda het toe die sleutel vir Anton probeer aangee maar sy hande was reeds gebrand en hy het die sleutel laat val. Sy het vir Janine geskree om die tuinslang te bring maar daar was geen water in die kraan nie.

Anton Botha se skootrekenaar is in die brand vernietig.

“Hy het vir my gesê, ‘Eina ouma, eina dit is seer’,” het Linda vertel. Dit was Anton se laaste woorde voordat hy geval en sy liggaam begin brand het.

Janine kon haar ma wegtrek van die kamer af, en selfs al het die vlamme nie aan Linda geraak nie, was dit so warm dat haar hare, voorkop, skouer en haar hande tweedegraadse brandwonde opgedoen het.

Die twee vroue het by die bure gaan hulp vra en die brandweer en polisie probeer bel. Maar teen daardie tyd was Anton reeds dood. Die bure het met tweeliterbottels en emmers water aangedra om die vuur te probeer blus en te keer dat dit na die res van die huis of die bure se huis versprei. Later het die brandweer water uit die bure agter hulle se swembad gepomp om die vuur te blus.

Hy was ‘n baie goeie mens. Hy sou eerder sonder iets klaarkom as hy dit vir jou kon gee,” het Janine, vir wie Anton soos ‘n broer was, vertel.

Sy ouma het vertel dat Anton baie lief was vir kos, maar dat hy soms selfs kruideniersware wat hy vir hulle gekoop het, aan ander sou uitdeel om hulle te help.

Een van die buitekamer se deure na die brand.

Die familie is hartseer en kwaad, en hulle wil hê die munisipaliteit moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul rol in Anton se dood. “Dit sal hom nie terugbring nie, maar dit mag nie weer gebeur nie,” het Linda gesê.

Ek is baie kwaad; hy was so jonk en niemand verdien om so dood te gaan nie. Dit is die munisipaliteit se nalatigheid,” het Janine gesê.

Hulle sal nooit Anton se skewe glimlag vergeet nie en het vertel dat selfs al was ander lelik met hom, het hy altyd geglimlag. Hy was ‘n terggees.

Die familie bedank graag almal wat die oggend gehelp het en wat hulle ook nou bystaan – veral die bure agter hulle.

Die West Village-gemeenskap sukkel nou al maande sonder water of met lae waterdruk, en Linda en Janine wil hê dat iets gedoen moet word sodat ‘n ander familie nie dieselfde hartseer as hulle deurmaak nie.

Waterbottels en emmers wat gebruik is om water aan te dra. Foto’s: Natasha Pretorius.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button