Gebrek aan dienste in West Village – Gemeenskap het genoeg gehad

Volgens Andre Shannon, die ondervoorsitter van die West Village-komitee, sukkel hulle al van 2013 af om dienste van die munisipaliteit af te kry, en daar is 'n handjievol probleme wat dringend aandag verg.

Die gemeenskap van West Village sit met hul hande in hul hare omdat hul klagtes oor die gebrek aan dienslewering op dowe ore val.

News-joernalis Natasha Pretorius het onlangs met Andre Shannon, die ondervoorsitter van die West Village-komitee gesels oor die probleme wat hulle ervaar.

Lees ook: Why West Village has a water supply problem

Die komitee is in Maart gestig en Shannon het vertel dat hulle dit juis gedoen het omdat daar niks in die area aangaan nie.

Volgens hom sukkel hulle al van 2013 af om dienste van die munisipaliteit af te kry, en daar is ‘n handjievol probleme wat dringend aandag verg. Die eerste hiervan is die water.

Die watertenk met die nuwe kragopwekker wat nie op die ooreengekome tye aan- en afgeskakel word nie.

Die kragverskaffer vir West Village is West Rand Power Distributors, en volgens Shannon is hulle in 2017 laas deur Mogale City betaal. Daar word klaarblyklik R3 miljoen aan hulle geskuld. Die krag wat hulle verskaf word onder andere gebruik vir die waterpomp om die reservoir vol te pomp, die straatligte aan te hou en om die verkeersligte buite West Village te laat werk.

Vandat die krag afgesny is, is daar nie ‘n manier om water tot in die reservoir te pomp nie. Mogale City het in die tussentyd ‘n kragopwekker geïnstalleer om die water te pomp maar Shannon het gesê dat selfs dit nie op die ooreengekome tye aan- en afgeskakel word nie.

Kabels word tot teen die pad uitgegrawe.

Die tweede kwessie is die area se paaie, en deur net deur West Village te ry kan mens sien dat die paaie baie werk nodig het. Shannon het vertel dat dit vir hulle lagwekkend is dat hul wyksraadslid die Burgemeesterskomiteelid vir Paaie in Mogale City is.

Met dié dat daar nie straatligte is nie het Shannon vertel dat in een week ses verkragtings by hul komitee aangemeld is. Dit is saans baie gevaarlik en al het hulle ‘n buurtwag wat patrollie doen, is dié mense se hande ook maar afgekap.

In die afgelope paar weke het skelms begin om die ondergrondse elektriese kabels in die area uit te grawe. Die inwoners in die C-ry het nie krag nie en al is die diefstal volgens Shannon vyf keer aangemeld terwyl hulle besig was om die kabels te steel, en elf keer in totaal, word niks daaraan gedoen nie.

Waar kom skelms bymekaar? Daar waar dit donker is,” het hy gesê.

Daar is nagenoeg 530 huise en wooneenhede in West Village, en Shannon het moedeloos gevra hoekom hulle nie dienste kry as hulle almal hul belasting elke maand betaal nie.

Uit desperaatheid het die gemeenskap hulle tot die Menseregtekommissie gewend. In ‘n brief wat Buang Jones, die provinsiale hoof van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in Gauteng aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig het, het hy gevra vir terugvoer oor bepaalde punte.

Kabels word tot teen die pad uitgegrawe.

In die brief wat op 23 Maart 2022 gestuur is, en spesifiek gerig is aan die Munisipale Bestuurder, word gesê dat die Kommissie op 10 Februarie 2022 ‘n klagte van Shannon ontvang het rakende die wateronderbrekings in die gemeenskap.

Na noukeurige beoordeling het die Kommissie bevind dat die klagte binne ons jurisdiksie val aangesien daar ‘n prima facie-skending van die klaer se reg op behoorlike water is,” lui die brief.

Die Kommissie het op 3 Maart 2022 inspeksie gaan doen en die volgende bevind:
• Die waterstorting deur die kontrakteurs uit die watertenk voorsien nie die gemeenskap voldoende nie, aangesien die druk van die water laag is.
• Die kontrakteurs maak gebruik van ‘n kragopwekker om die water te stort.
• Die munisipaliteit stel nie die gemeenskap in kennis van die wateronderbrekings nie.

Hulle het versoek dat Mogale City binne 21 dae op die klagtes reageer, en dat hulle die nodige dokumente aan die Kommissie sal voorsien. Hulle het ook versoek dat ‘n virtuele vergadering gehou word om ‘n oplossing te vind.

Volgens Shannon het Mogale City nooit terugvoer gegee nie. Die News het ook die klagtes aan die burgemeester gestuur maar nog geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version