AfriForum Krugersdorp trap rem met Bob van Reenen: Vra eers sekerheid

Die AfriForum Krugersdorp-tak het besluit dat hulle hul Bob van Reenen-skoonmaakprojekte vir eers gaan staak totdat hulle meer duidelikheid het oor wie die stadion gaan bestuur.

Na maande se harde werk om die Bob van Reenen Sportstadion weer bruikbaar te maak het AfriForum Krugersdorp besluit om vir eers opsy te staan totdat daar meer duidelikheid oor die bestuur van die stadion is.

Die News het met die voorsitter van AfriForum Krugersdorp, Martin Lombard gesels oor dié besluit.

Martin het verduidelik dat hulle as tak besluit het om vir eers hul werk by die stadion te staak totdat hulle ‘n kontrak in die verband onderteken het.

Hy het gesê dat hulle nie kan aanhou skoonmaak terwyl daar nog nie ‘n einddoel in sig is nie. Hulle wag nou vir ‘n datum waarop hulle hul planne vir die bestuur van die stadion aan die munisipaliteit kan voorlê.

Na raming sal dit volgens Martin R35 miljoen kos om die stadion op te knap. Dit sluit herstelwerk aan die ligte, infrastruktuur, dakke en die pawiljoene in, asook ‘n nuwe atletiekbaan en al die verfwerk.

Hulle beplan ook om die Jan Lotz-rugbyvelde speelbaar te maak, en nuwe rugbypale te plant.

Hy het vertel dat hulle graag wil hê die stadion moet weer aan die gemeenskap behoort en net so gesog soos in die verlede wees.

Hoewel hulle vir eers hul skoonmaakprojekte stopgesit het, beteken dit nie dat hulle handdoek ingooi nie. Hulle fokus bloot op ander projekte om Krugersdorp die beste dorp te maak, soos hulle slaggat- en grassnyprojekte.

Ons kan nie genoeg dankie sê vir die fisiese bystand asook die ondersteuning op sosiale media nie. Ons as tak het gegroei met die projek. Dankie vir die vertroue wat die gemeenskap in AfriForum gestel het, en ons hoop hulle sal aanhou om ons te ondersteun,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version