Kom wees ‘n cowboy in die Wilde Weste!

As jy nog altyd wou weet hoe dit sou wees om 'n cowboy te wees kan jy gerus 'n draai by die West Village Cowboy Town gaan maak om uit te vind.

As jy nie weet wat om oor ‘n naweek te doen nie, hoekom gaan maak jy nie sommer ‘n draai in die Wilde Weste nie?

By die West Village se Cowboy Town kan jy amper enige iets kry waarna jy soek, lekker kos eet en ‘n pretdag saam met die familie geniet.

Met die intrapslag voel dit asof jy op ‘n filmstel is en jy verwag half dat daar enige oomblik ‘n cowboy op ‘n perd gaan verbygalop.

Volgens Romy Mare, een van die stigters van die dorpie was daar altyd ‘n behoefte aan uitstalspasie vir opkomende entrepreneurs. Daarom het hulle die West Village Market op 29 Oktober 2017 begin.

Die winkels wat tans daar is sluit in ‘n massiewe antiekwinkel, ‘n kunsgalery, handewerk, skoonheidswinkels, verskeie restaurante, ‘n manshaarkapper en karwas.

Gaan maak gerus ‘n draai by Billy the Bread, die Cowboy Cafe of die Blue Parrot Smoke House as jy iets lekker wil hê om aan te smul. Die Blue Parrot het ook ‘n kompetisie aan die gang om te kyk wie ‘n 1,2kg-steak die vinnigste kan verorber. In Desember sal die wenner sy geld kan terugwen.

Die winkels in die dorp is sewe dae ‘n week oop en op Sondae is daar ook ‘n veiling en ‘n mark met verskillende stalletjies.

Bo en behalwe die spookasem, die Slush Puppies en die goedkoop produkte is daar ook ander gebeurtenisse, soos die talentkompetisie waar deelnemers elk vier liedjies sing en elke week punte opbou. Toeskouers stem dan vir hul gunstelinge en die wenners kry ‘n kontantprys en deelname aan toekomstige vertonings by die mark.

Elke twee tot drie maande word daar ook ‘n motorfiets- en motorskou aangebied en dan kan almal kom spog met hul vintage-karre.

Die gelde vir uitstallers is minimaal omdat hulle graag die gemeenskap wil aanmoedig om by hierdie projek in te skakel.

As jy en die familie dus oor die naweek nie lus het om met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie, gaan maak gerus ‘n draai en verbeel jou jy is in die Wille Weste.

Vir enige navrae of om uit te stal, skakel gerus vir Mia by 079 596 5225 of epos mia@cowboytown.co.za.

Kliek hier om na nog foto’s te kyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version