Besluit van Nasionale Loterykommissie om DBV-befondsing te staak is kortsigtig

Dié belangrike diens word reeds die afgelope 62 jaar gelewer en sal nou moontlik gestaak moet word indien ander befondsing nie bekom word nie.

Die besluit van die Nasionale Loterykommissie om nie meer geld aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te gee nie is kortsigtig en jammer, en gaan groot lyding onder diere in veral die minder gegoede en afgeleë gemeenskappe veroorsaak.

“Die DBV het pas in ‘n verklaring aangekondig dat hulle deur hierdie besluit gedwing sal word om die gratis dienste wat in ‘arm gemeenskappe’ gelewer word, drasties in te kort,” het advokaat Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder vir Handel en Nywerheid in ‘n persverklaring gesê.

Alberts het gesê dat volgens die DBV daar veral ‘n dwingende nood is om hulp te verleen aan diere soos donkies, perde en beeste wat juis in afgeleë gebiede vir werk en vervoer gebruik word. Dié belangrike diens word reeds die afgelope 62 jaar gelewer en sal nou moontlik gestaak moet word indien ander befondsing nie bekom word nie.

“Die Kommissie het laat blyk dat die fokus van befondsingprojekte verskuif het en dat daar voortaan op ‘armoedeverligting’ gefokus gaan word.”

Die parlementêre portefeuljekomitee vir Handel en Nywerheid het oorsig oor die Loterykommissie, en die VF Plus sal dié aangeleentheid gewis op die agenda plaas met ‘n versoek aan die voorsitter om die besluit van die kommissie te laat herroep, het Anton gesê.

“Die beskawingspeil van ‘n gemeenskap kan direk gemeet word aan die wyse waarop hy sy diere behandel. Liefde tussen mens en dier en die versorging van die diere het ‘n helende effek op ‘n gemeenskap. Albert Schweitzer het gesê as jy nie deernis vir alle lewende wesens het nie, sal jy nooit innerlike geluk ervaar nie. ‘n Gemeenskap wat sy kop wegdraai van diere se lyding sal inderdaad ‘n siek en stukkende gemeenskap wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version