Ontgroening weer vet pret

Wat sê jy van hierdie tradisie?

Aan die begin lyk hoërskool soos die grootse uitdaging van jou lewe. Alles is groter en moeiliker en nou moet jy inval.

Dan gebeur die ondenkbare – jy word verwag om ‘n kous oor jou hand te dra en vir die eerste paar weke van jou hoërskoolloopbaan moet jy met behulp van díe briljante matriekuitvindsel praat.

Maar Cathy Grobbelaar, ‘n inwoner van Krugersdorp, sê ontgroening is deel van hoërskool tradisie.

Elke agent, nes Laycin Humphreys, het ook die geleentheid gekry om ‘n geheime uitvindsel te maak deur slegs van ‘n paar huishoudelike items gebruik te maak.

“Dit is pret en Graad 8 leerlinge leer die [matriekulante] beter ken. Dis ‘n goeie manier om ‘n nuweling by ‘n groot skool in te wy,” meen sy.

Hoërskole regoor die land begin die nuwe jaar met matriekulant leiers wat die skool se “nuwelinge” optof met snaaksighede en hulle die wyse van die skool leer.

Hoërskool Noordheuwel se 360 Graad 8s staan vanjaar bekend as agente.

“Voor ‘n agent werklik in die veld gestuur kan word, moet hy of sy eers goeie agente-opleiding ontvang,” verduidelik Karlien Steyn, die skool se bemarkingsbestuurder.

Die volgende vyf jaar is die agente deel van “die beste agentskap” waar hulle al die nodige vaardighede en wyshede sal leer om seker te maak dat hulle reg is vir die missie “om ‘n trotse Norie te word.”

En dit blyk die ideaal te wees vir meeste skole.

Hoërskool Monument se bemarkingsbestuurder, Eben Vermaas, stem saam dat dit as ‘n spanbouprojek geag word.

“Die program is mooi saamgestel en daarom kry ons selde klagtes van ouers af. Die ouers is gemaklik daarmee,” sê hy.

Hoofseun Karel Vahrmeijer en hoofdogter Marelize Meyer wys die blikkies wat die Graad 8s by Hoërskool Monument ontvang het.

Tertia Horak, nog ‘n inwoner, sê haar seun geniet sy ontgroening verskriklik baie.

“Maar sy skool se matrieks is wel opgevoed wat niemand verneder of verkleineer nie,” sê sy.

Die hoofseun van Monnas, wie se Graad 8s vanjaar as gappies bekend staan, stem saam dat ontgroening altyd oor opheffing moet gaan. Hy sê dat dit nie die moeite werd is om “lelik” te wees nie, want wanner hulle weer in matriek is gaan ‘n slegte siklus begin.

“Ons wil liewer hê die Graad moet soos ‘n eenheid voel omrede hulle almal dieselfde ervaring het. Ons wil die Graad 8s lief maak vir die skool en hulle voorberei vir hulle hoërskoolloopbaan,” sê hy.

Nories se Hoofseun, Ruben Coetzee en hoofdogter, Marné Kriedemann by die agente.

Maar ontgroening gaan nie altyd volgens plan nie. Verlede jaar het vier skoliere in Jan-Kempdorp glo as deel van ‘n ontgroeningsproses ‘n medeskolier mishandel. Hulle staan, volgens Maroela Media, tereg op aanklagte van verkragting en aanranduing gestaan.

Vertel die News of jy met die ontgroeningsproses saamstem en waarom? Los jou kommentaar onder.

Lees meer:

• Onvolwasse en agterlike gebruike

Exit mobile version