Kankerlyer, maar steeds steunpilaar in gemeenskap

Sy mag dalk al haar hare afgeskeur het, maar die vrou in Amanda het geensins gaan lê nie.

Een van die dorp se mees prominente vroue het self al ‘n moeilike pad gestap, maar om seker te maak die regte prosedures word altyd gevolg en Afrikaner kultuur word behou, is sy altyd gereed om haar medemens te help.

“Ek wou nie altyd ‘n politikus word nie,” het Amanda de Lange, leier van die Vryheidsfront Plus aan die Wes-Rand, vertel. Sy is ook ‘n lid van die party se dagbestuur, ‘n direkteur van die Boerevrou Liga en ‘n stigter by Kleinvallei Landgoed.

Dis ‘n mondvol, maar Amanda se besige dae lyk nog voller.

“Ek is vreeslik betrokke by die gemeenskap en wil mense help. Dis waarom ek ‘n politikus geword het. Dit is die mees effektiewe manier om ‘n verskil te maak.”

Amanda dien op vier verskillende portefeuljes by Mogale City Plaaslike Munisipaliteit en hou die munisipale bestuur kort-kort op hulle tone.

Maar in haar persoonlike lewe het sy nie altyd soveel gesag gehad nie. Amanda is 24 jaar gelede met kanker gediagnoseer. Vandag gaan sy twee maal ‘n jaar vir chemoterapie by Johannesburg se Algemene hospitaal. Maar volgens haar is die gewas op haar brein nie meer ‘n struikelblok nie, maar ‘n deel van haar lewe. Die kanker is ook nou in remissie.

“As gevolg van die behandeling het ek baie hare verloor. My hare wou ook op plekke nie meer groei nie,” sê die 48-jarige ma van drie.

“Na ek op televisie ‘n vrou gesien het wat haar hare afgeskeer het, wou ek dit ook graag doen.”

Daardie middag het Amanda se man beide sy en haar hare afgeskeur.

Vandag dra Amanda met trots ‘n tatoeërmerk aan die kant van haar kaalkop. Dit is van ‘n veer wat “die vryheid van my siel en keuses verteenwoordig”.

As nie eers kanker haar kan keer om voluit te lewe nie, gaan díe jaar se plaaslike verkiesings nie juis Amande se senuwees terg nie.

“Vanjaar gaan ‘n goeie plaaslike verkiesingsjaar vir die VF Plus aan die Wes-Rand en ook nasionaal wees. Ons het groot planne.”

Weet jy van iemand wat ook floereer, al ly hulle aan ‘n kroniese siekte? Stuur jou storie na krugersdorpnews@caxton.co.za.

Verwante artikels:

• Pastoor met ‘n hart van goud

• [PHOTOS] A boy called Veronika

• Beskerm óns geskiedenis, eis VF+

Exit mobile version