CrimeEditor's choiceLocal newsNews

Inbrekers koes waarskuwingskote deur bejaarde slagoffer

Hoe sou jy gemaak het?

Wat maak jy as drie inbrekers jou in jou huis met klippe begin gooi? ’n Plaaslike inwoner het besluit om sy handgeweer uit te haal.

Piet Lourens, 65, van Lewisham het op 21 Desember om 1.45vm wakker geskrik toe sy klein hondjies tekere gaan. Lourens het drie mans in sy erf betrap terwyl hulle probeer inbreek het.

“Hulle het my by die deur sien uitkom en stil geraak. Toe ek weer in die huis ingaan het my honde nog erger geraas. Dis toe dat ek hulle sien,” het Lourens vertel.

Skielik moes hy vir ’n stuk betonblok koes wat na sy kant toe gegooi is.

“Hulle was vreeslik arrogant en het glad nie vir my geskrik nie,” het hy gesê.

Die pensioentrekker, wat al ’n ruk alleen bly sedert hy geskei is, het toe sy handgeweer gaan haal.

“Ek het ’n paar waarskuwingskote afgevuur, maar selfs daarvoor het hulle nie geskrik nie.”

Lourens het so vinnig as moontlik die polisie probeer bel, maar die telefoon het net gelui. Hy het toe Muldersdrift Polisiestasie geskakel wat toe lede van Krugersdorp Polisie uitgestuur het. Lede van Sektor 9-Gemeenskapspolisiëringsforum het ook by Lourens se huis opgedaag.

“Toe die boewe sien hulle kom nie by my reg nie, het hulle weggehardloop,” het Lourens gesê.

Die boewe het stukke van die agtererf se betonmuur afgebreek en as wapens gebruik. Die drie mans is nog nie vasgetrek nie.

“Een polisieman het gesê dit was goed dat ek myself verdedig het,” het Lourens gesê.

Niks is gesteel nie, maar Lourens glo hulle was na iets spesifiek opsoek.

“’n Week vantevore is daar ook by my huis ingebreek. Die karavaan was oopgebreek en die drade van al die elektriese toestelle is gesteel. Ek is seker dit was dieselfde drie wat weer teruggekom het.”

Lourens het gesê hy slaap moeilik en wag vir die volgende inbrekers om hom te kom aanval. Hy is ook nie seker of hy homself met sy handgeweer mag beskerm nie.

“Ek wil niemand doodskiet nie, maar wat maak jy as hy in jou huis inkom?”

Wat is jou opinie oor hoe dié inwoner homself verdedig het? Laat jou kommentaar gerus onder.

Verwante artikels:

• Lewisham hijackers on the loose

• Witchcraft altar discovered in Lewisham

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button