Reisagent verdwyn glo met skoolkinders se toergeld

30 leerlinge sit met vervalsde vliegtuigkaartjies nadat ’n reisagent spoorloos verdwyn het met hul toergeld.

’n Groep hoërskoolkinders was diep teleurgesteld toe hulle by OR Tambo Internasionale Lughawe uitvind hul vlugkaartjies vir ’n oorsese toer is vervals.

Hoërskool Monument reël elke jaar ’n Eurotoer waar leerlinge die geleentheid kry om as ’n groep die wêreld te sien.

Leerlinge en ouers het gister, 25 Junie, met groot skok uitvind dat die kaartjies nie net vervals is nie, maar dat die agent wat alles namens die skool gereël het, met 30 leerlinge se geld verdwyn het.

Ouers moes sowat R30 000 per leerling vir die uitstappie opdok.

Die groep sou om 2nm na Aboe Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate vertrek, en daarna sou hulle deur Ierland, Spanje, Frankryk en Portugal toer.

Woedende ouers het hul teleurstelling op die sosiale media platform Facebook uitgedruk en die agent se identiteit en haar besigheid ook ontbloot.

Die groep leerlinge en ouers het glo gisteraand in die skoolsaal bymekaar gekom om ’n moontlike uitweg vir die situasie te vind, toe ’n barmhartige Samaritaan instap.

Volgens kommentaar op die Krugersdorp Network Community Facebook-blad het die persoon, wie se identiteit onbekend is aan die News, aangebied om die kostes van die 30 leerlinge te dra sodat die toer kan voort gaan.

Die News wag vir bevestiging van onderwysers wat die toer reël om die gerugte te bevestig.

‘n Saak van bedrog en diefstal is by die Krugersdorp Polisie geopen en sedert die insident kan die agent nie bereik word nie.

Verwante artikels:

• Mini-hokkie sukses by Monnas

• Sweets, sweets and more sweets

• VIDEO: Vloedwater beskadig Monument se rugbyveld

Exit mobile version