Local newsNewsUpdate

[KLANKGREPE] Hy was ‘n skoolhoof-duisend

Die NG Suiderlig-kerk in Krugersdorp-Wes was stampvol soos leerlinge, vriende, kollegas en familie 'n laaste afskeid van HTS Nic Diederichs skoolhoof geneem het.

Dit was ‘n diens om sy lewe op aarde as vriend, skoolhoof, kollega en pappa te vier.

Só het Nadia, die oudste dogter van Günther Bühner, skoolhoof van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs tydens sy roudiens gister in die stampvol NG Suiderlig-kerk in Krugersdorp-Wes gesê waar leerlinge, vriende, kollegas en familie gesukkel het om die trane terug te hou.

Lees meer hier: ‘n Leemte na twee van Nic Diederichs sterf

‘n Laaste afskeidsgebaar. ‘n Selfportret van wyle Günther Bühner met blommerangskikkings en kerse is voor op die NG Suiderlig-kerk se verhoog geplaas.
‘n Laaste afskeidsgebaar. ‘n Selfportret van wyle Günther Bühner met blommerangskikkings en kerse is voor op die NG Suiderlig-kerk se verhoog geplaas.

Bühner, sy vriendin Jackie Alberts en haar vyf-jarige dogtertjie Alandri is voorverlede Sondagaand, 14 Junie, deel van ses mense wat tydens ‘n motorongeluk op die N14-hoofweg in Brandvlei, Randfontein opslag dood is.

Vier mense, waaronder Bühner se 16-jarige dogter Jané en Alberts se sewejarige seuntjie Luan is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal.

Lees meer hier: Oorlede hoof se dogter in kritieke toestand na ongeluk

“Dit voel soos gister toe die rolle omgeruil was en ek daar agter in die kerk gesit het en my pa hier voor gestaan het om ‘n huldeblyk aan my ouma te lewer. Soos altyd het hy die mooiste woorde gesê en met soveel trots en waardigheid gepraat; ek dink dit is hoe ons hom altyd sal onthou en vandag is dit my beurt,” het ‘n emosionele Nadia aan rouklaers gesê.

Leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs het met rose vasgeklem in hulle hande 'n erewag buite die NG Suiderlig-kerk gestaan.
Leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs het met rose vasgeklem in hulle hande ‘n erewag buite die NG Suiderlig-kerk gestaan.

“Ons het hom almal op verskillende maniere geken. Van julle het sy hoofkant geken, streng en sonder nonsens. Ander het die voorreg gehad om sy vriendskap kant te ken, altyd lojaal en opreg.

“Ek het die voorreg gehad om sy pappa-kant te ken en soos enigiets in die lewe was alles nie altyd maanskyn en rose nie, maar hy was ‘n ongelooflike pa en ek het so baie by hom geleer.”

Adolf Ellis, skoolhoof van Hoërskool Bekker het tydens sy huldeblyk gesê hy gaan sy vriend en vertroueling baie mis, “maar ek weet jy is veilig aan Jesus se sy”.

Hy het gesê niemand wat hom ontmoet het, kon dan wegstap en sê hulle is nie deur hom geraak nie.

Hoofdogter en hoofseun van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs, Zellindie Meyer en Johan van Eeden, het die afskeidsblaadjie sowel as 'n boekmerkie van Günther Bühner by die deur van die NG Suiderlig-kerk uitgedeel.
Hoofdogter en hoofseun van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs, Zellindie Meyer en Johan van Eeden, het die afskeidsblaadjie sowel as ‘n boekmerkie van Günther Bühner by die deur van die NG Suiderlig-kerk uitgedeel.

“Hy was essentriek, hardkoppig, uiters slim en snaaks en het ‘n passie vir die onderwys gehad soos niemand anders nie – hy het geweet wanneer om te raas, maar die dag wanneer hy jou troos om ‘n kompliment te gee het jy geweet hy bedoel dit.”

Ellis het gesê die leerlinge van HTS Nic Diederichs word agtergelaat, ‘n wonderlike hoof is verwyder, maar soos sy Whatsapp status sê “ek is werklik geseën”.

Die begrafnisbrief wys ‘n lewenslustige man. Die diens is deur ds Gerhard Slabbert waargeneem.

Leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs het met rose vasgeklem in hulle hande 'n erewag buite die NG Suiderlig-kerk gestaan.
Leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs het met rose vasgeklem in hulle hande ‘n erewag buite die NG Suiderlig-kerk gestaan.

Back to top button