Mini-hokkie sukses by Monnas

Leerlinge van verskillende skole aan die Wes-Rand het die geleentheid gehad om vir 'n dag hulle lyf hokkiespeler te hou.

Met die oog op hokkie-ontwikkeling het altesaam 343 jong hokkiespelers die geleentheid gekry om hulle slag op die veld te wys.

Hester du Plessis, ‘n onderwyseres by Curro Krugersdorp het gesê die leerlinge van verskeie skole aan die Wes-Rand tussen 6 en 7 jaar het met tonne entoesiasme en afwagting by Hoërskool Monument (Monnas) opgedaag, wat beplan om hierdie tipe kliniek jaarliks aan te bied.

Daar was 16 hokkie stasies waar leerlinge hulle vaardighede op die proef kon plaas.

“Monnas se hokkie en natuurlik ook hokkie in ons gemeenskap beweeg in die nabye toekoms na die volgende hoër stap, met die bou van ’n astro by Hoërskool Monument wat almal in ons gemeenskap die geleentheid gaan bied om hul hokkie talente en passie uit te leef.”

Sy het gesê hierdie mini-hokkiekliniek was die eerste tree en sy sien reeds uit na die volgende kliniek wat dan voortaan op die astro sal plaasvind.

Afrigters en leerlinge het vet pret met al die nuwe vaardighede wat hulle op die veld aanleer.

Die kliniek se hoofdoel was om hokkievaardighede vir elkeen aan te leer, waar afrigters verskillende tegnieke en idees onder mekaar kan deel asook om ‘n passie vir dié sport van kleins af onder leerlinge te kweek.

Skole wat by die kliniek baat gevind het was Laerskole Krugersdorp-Noord, Roodekrans, Curro Krugersdorp, Rapportryer, Bekker, Muldersdrift, Alma Mater en individuele spelers van verskeie ander laerskole in die omgewing.

“Daar was 16 stasies waar die spelertjies onder andere geleer het hoe om ’n hokkiestok reg te hanteer en verskeie hokkie posisies uit te voer.”

Na susksevolle voltooiing van die kliniek het elke speler ‘n T-hemp en ‘n sertifikaat ontvang.

“Met pappa en mamma wat opgewonde motiveer, lekker kos en musiek wat in die agtergrond speel – dit het alles bygedra tot ’n feestelike middag vir elkeen. Daarom ’n spesiale dankie aan elke borg, die afrigters, hokkiespelers en ouers van Hoërskool Monument en laaste maar nie die minste nie, elke mini-hokkie ouer en spelertjie,” het Hester gesê.

“Ons sien met opgewondenheid uit na Monnas se volgende hokkiekliniek.”

Leerlinge van verskeie skole aan die Wes-Rand het die kans gekry om vir ‘n dag meer oor hokkie te leer.
Exit mobile version