[VIDEO+FOTO’s] Standbeelde met rooi verf geskend

Krugersdorp se erfenisbakens het tóé ook onder vandale se kunsvlyt deurgeloop.

Gemoedere het vanoggend hoog geloop in Krugersdorp na die jongste skending van monumente vanuit die koloniale- en apartheidstydperk.

Die borsbeeld van ‘n eertydse Eerste Minister Advokaat JG Strijdom en Paul Kruger, President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) is moontlik gedurende die oggendure met rooi verf geskend.

Verskeie kraswoorde soos ‘f*#k bore’ (sic) en ‘f*#k Kruger’ (sic) is op die beelde aangebring en selfs Boko Haram, die Islamitiese terroriste-beweging is genoem.

Die beelde van advokaat J.G Strijdom en Paul Kruger is met rooi verf gevandaliseer.

Dit volg nadat ‘n griefskrif verlede Woensdag, 8 April, aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit oorhandig is om die bewaring en beveiliging van die talle monumente in die dorp te verseker.

Omstanders het gekyk hoe die polisie die gebied afbaken sodat forensies met hulle werk kon begin.

Die News het verlede week verslag gelewer oor die dorp se standbeelde wat in die spervuur is. Lees hier.

Amanda de Lange, ‘n Vryheidsfront Plus-raadslid vir Mogale City het gesê sy is hewig ontsteld oor die jongste gebeure.

“Ek is woedend hieroor, dit is mense wat swaksinnig is en geen erfenis het om te bewaar of om na op te kyk nie. Om monumente en erfenisbakens te skend gaan hulle nerens bring nie.”

Alwyn de Klerk, President van die Verkennersbeweging van Suid-Afrika, het gesê hy is briesend oor die voorval.

“Elke jaar hou ons ‘n seremonie hier by die beeld van Paul Kruger om sy verjaardag te vier, waar ons hom dan met ‘n ampserp tooi,” het hy gesê.

“Hierdie standbeeld is vir ons baie waardevol, en nou kry jy barbare wat dit kom doen. Dit is óns geskiedenis so los dit uit, hulle is besig om te krap waar dit nie jeuk nie.”

William Nchefu, hoof van openbare veiligheid van Mogale City het aan die News gesê dat hulle dié area sowel as areas waar ander monumente is gaan beveilig.

“Ons is natuurlik baie teleurgesteld en sal alles in die stryd werp om hierdie gebiede te beveilig. Dit is nou nie net ‘n munisipale probleem nie, maar nou ook ‘n nasionale probleem.”

Nkosana Zali, munisipale woordvoerder het gesê hulle veroordeel hierdie voorval ten sterkste.

“Dit is ‘n pynlike werklikheid dat die geskiedenis nie verdedig kan word in die teater van idees nie en nou tot so ‘n mate oor gegaan het waar gewapende personeel nodig is om dit te bewaar.”

Hy het gesê die herstelwerk van die vandalisering sal nou uit die munisipaliteit se koffer moet kom wat vir ander belangrike dinge soos vir beter dienslewering gebruik kon word.

Die beelde van advokaar J.G Strijdom en Paul Kruger is met rooi verf gevandaliseer.

Kolonel Luke Enslin van die Krugersdorp Polisiestasie se Speurtak het genoem dat ‘n saak oopgemaak gaan word vir die kwaadwillige beskadiging van eiendom.

“Ons forensiesespan is na die toneel ontbied en gaan elke leidraad moontlik probeer opvolg totdat die skuldiges vasgetrek is.”

Hierdie beskadiging van standbeelde volg in die spore van ander wat reeds oor die land gevandaliseer is.

Vir nog foto’s, kliek hier.

Exit mobile version