Beskerm óns geskiedenis, eis VF+

'n Griefskrif is vir die beveiliging van Krugersdorp se erfenisbakens aan Mogale City Plaaslike Munisipaliteit oorhandig.

Die landswye herrie rondom die verwydering van standbeelde wat die koloniale en apartheidstydperk uitbeeld is gister ook hier in Krugersdorp gevoel.

Dit volg na die verskeie protesaksies die laaste paar weke sedert studente van die Universiteit van Kaapstad geëis het dat die standbeeld van Cecil John Rhodes, ‘n eertydse Eerste Minister van die Kaapkolonie van die kampus verwyder moet word.

Dit is gevolg deur ander protesaksies wat tot die beskadiging en vandalisering van ander geskiedkundige bakens in plekke soos Pretoria en Port Elizabeth gelei het.

Gister het verskeie Afrikaner groepe onder leiding van die Afrikaanse sangers Sunette Bridges en Steve Hofmeyr by die Kerkplein in Pretoria bymekaargekom waar hulle met plakkate gevra het dat hul geskiedenis en erfenisgebiede uitgelos moet word.

In Krugersdorp het ‘n groep mense by die Paardekraal Monument bymekaargekom waar ‘n griefskrif deur Amanda de Lange, ‘n Vryheidsfront Plus raadslid vir Mogale City dit aan Annie Setswalo- Moja, MMC vir Menslike Nedersettings en Landelike Ontwikkeling oorhandig het.

Sy het dit namens Mogale City se Burgemeester Koketso Calvin Seerane ontvang.

Emily Mathe, MMC vir Maatskaplike Ontwikkeling en Gesondheid was ook teenwoordig.

Die Paardekraal Monument het eers as ‘n stapel klippe ontstaan wat gepak is as deel van ‘n versetaksie teen Britse oorheersing.

Die Paardekraal Monument het eers as ‘n stapel klippe ontstaan wat gepak is as deel van ‘n versetaksie teen Britse oorheersing.

De Lange het gesê Krugersdorp, wat na die eertydse President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), Paul Kruger vernoem is, is ‘n plek met ryk Afrikaner geskiedenis en tradisie.

“Daarom is dit belangrik om toe te sien dat wat elders in die land gebeur ook nie hier gaan plaasvind nie. Die munisipaliteit hou dié erfenisbakens tot dusver nog goed in stand.”

Die griefskrif vra dus dat die munisipaliteit sal voortgaan om die gebiede met streng maatreëls te beskerm sodat die dorp se standbeelde van moontlike vandalisme en beskadiging beskerm sal word.

Voorts word die munisipaliteit bedank vir die moeite wat tot dusver gedoen is om dit te bewaar en vra dat alles in die stryd gewerp sal word om dit te bly verseker.

“Krugersdorp is ‘n skatkis van geskiedenis en dit moet ten alle koste bewaar word. Daar is grafte van mense, wit en swart, wat tydens die Anglo-Boere oorlog in die konsentrasiekampe gesterf het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version