[VIDEO + INFOGRAFIKA]: Standbeelde in die spervuur

Met dié dat wit Suid-Afrikaners se geskiedenis in die spervuur is, ontstaan die vraag of die probleme ook na Krugersdorp gaan oorspoel.

Standbeelde en erfenisgebiede wat veral betrekking het op die geskiedenis van wit Suid-Afrikaners word op verskeie plekke in die land beskadig en gevandaliseer.

Dit volg nadat studente van die Universiteit van Kaapstad geëis het dat die standbeeld van Cecil John Rhodes, wat op die kampus staan, verwyder word. Rhodes was Eerste Minister van die Kaapkolonie gedurende die laat 1800’s en plekke soos Rhodesië (huidige Zimbabwe) en Rhodes Universiteit in Grahamstad in die Oos-Kaap is na hom vernoem.

Kliek op dié infografika om dit te vergroot.

Intussen het verskeie ander standbeelde ook deurgeloop, met die jongste voorvalle in Pretoria en Port Elizabeth.

Nou ontstaan die vraag of dit ook hier na Krugersdorp gaan oorspoel, wat na die eertydse President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), Paul Kruger vernoem is.

Amanda de Lange, ‘n Vryheidsfront Plus raadslid vir Krugersdorp het gesê dit sal nie gebeur nie.

“Ons gaan nie terugstaan en kyk hoe ons geskiedenis herskryf word deur opposisiepartye wat dink deur die standbeelde om te trek moet dit verskuif word nie.”

Verskeie standbeelde staan nog onbeskadig in Krugersdorp, waaronder een van Paul Kruger en van JG Strijdom, Eerste Minister van Suid-Afrika gedurende die 1950’s.

“Paul Kruger is die vader en totstandkomingsfiguur van Krugersdorp, wat in ‘n gebied is waardeur die Voortrekkers destyds getrek het. Ons is baie trots op ons geskiedenis,” het De Lange gesê.

“Nou met die standbeelde en geskiedenis van Suid-Afrika wat in die spervuur is, het ons besluit ons wil ons erfenis beskerm.”

Daarom sal daar môre-oggend 8 April om 9vm ‘n saamtrek by die Paardekraal Monument gehou word waartydens ‘n versoekskrif aan Koketso Calvin Seerane, Burgemeester van Krugersdorp, oorhandig sal word.

‘n Standbeeld van JG Strijdom, ‘n eertydse Eerste Minister van Suid-Afrika. Dié standbeeld is op Vesoeningsdag 16 Desember 1966 deur dr JJ van Tonder onthul.

 

“Dit is om seker te maak dat ons standbeelde onbeskadig en veilig sal staan en bly staan. Indien enige versoeke gerig gaan word vir die verskuiwing daarvan moet dit deur die regte organisasies gedoen word.”

Gert Jonker, voorsitter van Krugersdorp se Gemeenskapspolisiëringsforum het by navraag oor die veiligheid van die standbeelde gesê dat hy nie tans oor die kwessie kommentaar kan lewer nie, omdat dit vanaand eers met lede bespreek gaan word.

Patrick Sindane, ‘n Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Lid van die Provinsiale Wetgewer kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Exit mobile version