Mogale inwoners sal miljoene moet opdok

Nagenoeg R5 miljoen moet vir die onregmatige gebruik van 'n rekenaarprogram betaal word.

Inwoners van Mogale City sal hulle hande nog dieper in hul sakke moet steek om vir ‘n verdere nagenoeg R5 miljoen te moet opdok.

Dit is die bedrag wat die plaaslike stadsraad vandag 30 Januarie aan Quill Assosiasie moet betaal vir die onregmatige gebruik van die BIQ bestuursisteem wat gebruik word om onder andere water- en elektrisiteitsrekeninge uit te gee.

Die munisipaliteit het glo nie toestemming om die sisteem te gebruik nie en moet nou die uitstaande lisensiegelde opdok.

‘n Verdere ongeveer R1,5 miljoen kan nog by hierdie bedrag gevoeg word vir rente wat opgehoop het, asook om die regskostes van die hofgedinge te delg, het Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid vir Krugersdorp gesê.

Die BIQ admin- en bestuursstelsel is reeds vir jare reeds met groot sukses deur Mogale City asook die res van die Wes-Rand se munisipaliteite gebruik maar volgens die besturende direkteur Danie van Heerden is die kontrak is weens persoonlikheidsgeskille sumier met Mogale City in 2011 beïndig.

Mogale City Stadsraad weier egter om die BIQ agteware aan Quill Assosiasie terug te gee en dit is waarom daar ‘n hofsaak geforseer is.

“Aangesien die stadsraad se gebruikers nie volle toegang tot die stelsel het nie, is die dienste van ‘n individu ingeroep om onregmatige toegang tot die sisteem te verkry. Die individu is einde verlede jaar in ‘n permanente posisie by Mogale City aangestel,” het de Lange gesê.

Volgens haar is daar geen spoor om te bewys dat die pos geadverteer was of dat ander kandidate die geleentheid gegee was om aansoek vir die vakante posisie te doen nie.

“Die munisipale bestuurder van ‘n stadsraad is wetlik regsaanspreeklik om te verseker dat belastingbetalers se geld nie verkwis word of onregmatig aangewend word nie.”

De Lange het gesê die munisipale bestuur speel in hierdie geval egter die grootste rol in die vrugtelose verwkisting van miljoene rande van die belastingbetalers.

Sy het gesê sy weet nie waar Mogale City die R5 miljoen en meer vir regskostes en rente gaan kry wat teen Vrydag betaal moet wees nie aangesien die stadsraad reeds tot op sy limiete geld geleen het.

Na beraming kos die BIQ hofsake en ander sisteme wat dit moes vervang, asook onbegrote kostes die belastingbetaler naby R100 miljoen rand.

“Dit is nog nie die einde van die sage nie”, het De Lange gesê.

‘n Verdere hofsaak met betrekking tot die BIQ sisteem teen Mogale City sal na alle waarskynlikheid in Junie teen ‘n verdere R6 miljoen voortgaan.

Verwante artikels:

Mogale City to cough up R15m for wrongful claim

Mogale City’s property values and billing cause great concern

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version