Klankgreep: Die Mnr Suid-Afrika titel is syne!

Ek voel trots en is opgewonde oor die jaar wat voorlê, het die Wes-Rander en amper-prokureur Armand du Plessis oor sy titel gesê.

As ‘n mens ‘n droom het, dan moet jy dit uitleef.

Só het die Wes-Rander en amper-prokureur Armand du Plessis, ‘n voormalige Mnr Mogale, sy droom om eendag ook die titel as Mnr Suid-Afrika op sy kerfstok te kry, ‘n ruk gelede beskryf.

Na ‘n jaar se harde werk en sweet het hierdie eer hom gister tydens ‘n spoggeleentheid by EnGedi te beurt geval. Hy volg in die voetspore van die Pretorianer John Owens.

“Dit is soos ‘n berg wat van jou skouers af is, maar ek voel trots en is opgewonde oor die jaar wat voorlê,” het hy vanoggend onderweg na sy eerste radio-onderhoud na sy oorwinning aan die news gesê.

“Ek kan net vir almal dankie sê vir hulle getroue ondersteuning, dit was ongelooflik. My foon se battery het gister tydens die finaal nie gehou met al die ondersteuning nie.”

Armand het gesê ‘n baie besige jaar lê nou voor vir hom voor, een waarin hy sy tyd en geleenthede ten volle wil benut om veral die kollig op onderwys te laat val.

“Onderwys lê my nog altyd na aan die hart. Wanneer ek die daling in ons matriekslaagsyfer sien, breek my hart. Daarom sal ek tyd wil spandeer om veral ons jeug te laat verstaan dat onderrig ‘n baie belangrike rol in ‘n mens se lewe speel – ek wil ander inspireer om verder te studeer.”

Armand du Plessis is in ekstase nadat hy as die nuwe Mnr Suid-Afrika aangewys is. Foto: Jaco Hoffmann/Digipix

Nie net die onderwys is vir hom belangrik nie.

“Die wêreld is vol hartseer en dit is regtig my droom om te sien dat ons as mense saam gelukkig kan wees en in vrede leef.”

Een ding is seker, Armand gaan heel moontlik vanaand sy dieetkos van die afgelope maande opsy skuif vir ‘n bietjie sondekos.

“Ek is al so moeg vir al die dieetkos en het elke sekonde van my gimsessies gehaat, maar ek moes volhou omdat ek dit aan al die mense wat my so goed ondersteun het, verskuldig was.”

Die Kapenaars Morné Marais en Sibusiso Sibanda is onderskeidelik in die tweede en derde plek aangewys.

Verwante artikels:

• The right tools for Lecobi

Exit mobile version