Local newsNewsSchools

Skuif op Rocco, hier kom Johan

'n Jong seun van Krugersdorp-Wes het 'n groot droom om eendag die wêreldverhoë aan die brand te speel met sy musiektalent.

Om klavier te speel vloei in ‘n jong Graad 9-leerling van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs se are.

Johan Pottas, 15, het onlangs twee silwer en een goue sertifaat ontvang vir sy deelname aan die Eisteddfod kompetisie, wat deur Hoërskool Monument aangebied is.

Hy vertel dit was die eerste keer wat hy aan enige musiek kompetisie deelgeneem het en skryf sy sukses toe deur om ure agter die klawerbord by die huis en die klavier by die kerk in te skuif.

Aan die news het hy vertel dat sy liefde vir musiek en veral die speel van hierdie musiekinstrument begin het toe hy nog ‘n klein seuntjie was.

“My ma, Lizzy, het my vertel dat ek reeds as baba die musiekprogram Noot vir Noot begin kyk het, maar dit was eers in 2003 waar my liefde regtig vir klavierspeel vlam gevat het.”

Dit was die jaar waarin hy die geleentheid gekry het om ‘n opname van dié program, wat deur sy naamgenoot Johan Stemmet aangebied word, by te woon.

Na die opnames het hy vir Johan van Rensburg ontmoet, wat toe die klawerbord met sy vingers gekielie het, en dit was daardie ontmoeting wat vir Pottas vir ewig sal bybly.

“Dit was waar my liefde vir musiek en veral vir die klawerbord ontstaan het.”

‘n Jaar later het sy oorle pa Chris vir hom ‘n klawerbord as geskenk gekoop waarop hy sy passie kon uitoefen.

Op Sondae het hy langs Elsa Pelzer by die kerk se orrel ingeskuif waar sy hom touwys oor klavierspeel gemaak het.

“Sy was die een wat my gelei het. In my vrye tyd het ek myself ook geleer en hoop om klavierspeel eendag my loopbaan te maak.

“Ek wil die wêreldverhoë aan die brand speel. Ja, dit is my groot droom,” vertel hy.

Hy het gesê dat hy na verskillende musici se musiek luister en hou veral van Rocco de Villiers en Martin Mans se musiekstyl.

“Ek wil graag ‘n klavierkursus by die Universiteit van Suid-Afrika voltooi, dit is wat ek eers wil behaal.”

Back to top button