Sopkombuis ly verlies weens inbraak

Die Deo Gloria Sopkombuis in Krugersdorp se Sakekern het onder inbrekers deurgeloop.

‘n Groot hap is uit die Deo Gloria Sopkombuis in Krugersdorp se kosvoorraad gebyt tydens ‘n inbraak verlede Donderdag 15 Januarie.

Christa le Roux is die stigter van dié niewinsgewende organisasie wat nagenoeg 150 honger kinders daagliks voed.

Toe haar man Dirk daardie oggend by die kantoor instap het hy gesien dat iets nie pluis is nie.

Liters water het soos ‘n waterval uit die dak gestroom en een van die kantoor se ruite was gebreek.

“Die inbrekers het al die koperpype van die geiser afgeruk. Hulle het ook die meeste van ons ruite se koperknippies asook al ons elektroniese ware se drade afgesny,” verduidelik Le Roux.

Sy sê hulle het ook met elektroniese ware soos ‘n kantsnyer en ‘n radio gevlug. Die radio sonder sy draad is later deur die polisie in Sivewrightstraat in Luipaardsvlei gevind.

Van die klereskenkings wat hulle ontvang het is ook deur die inbrekers gebuit.

“Ons het die polisie oor die inbraak ingelig – ook sodat die misdadigers dalk vasgetrek kan word wanneer hulle die koper by ‘n skrootwerf verkoop,” het Le Roux gesê.

Christa le Roux, stigter van die Deo Gloria Sopkombuis by die ruit waar die inbrekers deurgeklim het.

Sy het voorts gesê die inbraak het hulle groot skade en verliese laat ly, veral so kort na die feestyd.

“Ons hande is nou nie meer so oop soos altyd nie, omdat ons nie meer soveel voorraad het nie.”

Die gemeenskap word gevra om hulle harte en beursies vir die sopkombuis oop te maak sodat hulle hul werk vir die gemeenskap sonder onderbreking kan voortsit.

Sy sê ‘n saak van huisbraak is by die Krugersdorp Polisiestasie geopen en hulle bedank die polisie vir hulle flinke optrede.

Vir meer inligting kontak Le Roux gedurende kantoorure by 011 660 5063.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version