Mangat herstel maar teer verbrokkel

'n Mangat in Monument se deksel is glo deur 'n vragmotor afgery.

Na vier oproepe na die plaaslike munisipaliteit is ‘n oop mangat toegemaak, maar nou is daar weer ‘n ander tameletjie wat wag.

Frans Fourie, ‘n lid van die Sektor 4 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê die mangatdeksel op die hoek van Roos- en Jorissenstraat in Monument is verlede week deur ‘n trok afgery. Die teer om die mangat het erg verbrokkel en moet nog herstel word.

Hy en Pieter Sparks, wat ‘n fotografie-ateljee op die hoek het, het die mangatprobleem reeds vier keer by die stadsraad aangemeld.

“As ‘n motor daarin sou ry sal dit waarskynlik erge skade opdoen,” het Sparks gesê.

Frans Fourie, ‘n inwoner van Roosstraat by die mangat waaruit rou riool hierdie week gevloei het.

“Daarom het ek as landsburger besluit om die munisipaliteit te kontak, want dit is die regte ding om te doen. Die munisipaliteit is nie altyd orals nie en ons moet saamwerk om dinge soos dié te rapporteer.”

Die laaste strooi vir Fourie en Sparks was toe rou riool uit die oop mangat begin vloei het en hulle het die munisipaliteit dié week weer gekontak, wat die oop mangat reggemaak het.

“Maar nou lyk dit vir my ons sal weer die verbrokkelde teer by ‘n ander departement moet rapporteer. Hoe lank dit hulle gaan neem om dit te herstel kan ‘n mens net raai,” het ‘n moedelose Sparks gesê.

Exit mobile version