OPVOLG: Peuter vorder na amperse verdrinking

Hy is steeds in 'n koma in die waakeenheid en aan 'n ventilator gekoppel.

Dit gaan beter met die driejarige peuter wat Sondag 9 November amper verdrink het.

Lynette Minnie, Tristan Sellwig se ouma het gesê hy is nog in gevaar maar mediese personeel doen alles moontlik om hom te stabiliseer.

“Hy is steeds in ‘n koma in die waakeenheid en aan ‘n ventilator gekoppel. Hy behoort teen Donderdag verdere behandeling te kry om sy lyfie se temperatuur te verhoog.”

Die driejarige peuter Tristan Sellwig het amper verdrink toe hy in die swembad geval het.

Hy is die jongste kind van Chantal en Paul wat ook ‘n ouer seun het.

Minnie het gesê hulle is dankbaar vir almal se omgee sedert die ongeluk.

“Ons sien almal se liefde en ondersteuning raak en is regtig baie dankbaar daaroor. Die gemeenskap omvou ons met hulle liefde. Dankie vir al die gebedsgroepies wat vir Tristan gestig is,” het sy gesê.

“Ons Hemelse Vader is groot en ons kan net vir Hom dankie sê dat Hy Tristan veilig gehou het.”

Minnie het gesê dat dit sy was wat vir Tristan in die swembad gesien lê het en nie die tuinier soos die Netcare 911-woordvoerder Chris Botha in ‘n persverklaring gesê het nie.

“Ek het dadelik om hulp geroep waarna die tuinier in die swembad gespring het en hom uitgehaal het. Ek en sy tannie het mond-tot-mond asemhaling toegepas totdat paramedici opgedaag het.”

Botha sê toe hulle opdaag het hulle die seuntjie dadelik aan ‘n ventilator gekoppel en gevorderde lewensondersteuning begin toepas.

“Groot was die verligting toe die peuter se hart vanself weer begin klop het.”

Hy is daarna per helikopter hospitaal toe geneem.

Exit mobile version