Drie-jarige verdrink amper

Die tuinjong het die drie-jarige peuter op die bodem sien lê en dadelik na hulp geroep.

‘n Drie-jarige peuter sterk tans in die hospitaal aan nadat hy gister, 9 November tydens etensuur amper verdrink het.

Volgens inligting het die tuinjong die seuntjie op die bodem van die swembad gesien lê en dadelik na hulp geroep.

Chris Botha, Netcare 911 woordvoerder sê paramedici is deur die plaaslike brandweerstasie gekontak waarna hulle onmiddellik na die toneel is en die brandweerpersoneel aantref waar hulle reeds besig was met Kardiopulmonêre resussitasie (KPR).

“Ons paramedici het die seuntjie op ‘n ventilator gekoppel en dadelik gevorderde lewensondersteuning begin toepas.”

Hy sê dit was ‘n groot verligting toe die peuter se hart vanself weer begin klop het.

“Nadat hy suksesvol geïmmobiliseer is, is hy per helikopter na ‘n gespesialiseerde fasiliteit vervoer vir die nodige behandeling wat hy benodig.”

Botha sê nadat hy by die hospitaal aangekom het, het hy ook self begin asemhaal.

“Maar hy is steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.”

Exit mobile version