Gemoedere loop weer hoog oor kragvoorsiening

West Village inwoners het dit duidelik gestel dat hulle nou baie meer per maand vir elektrisiteit betaal as met die voorafbetaalde meter.

Groot ontevredenheid heers weer in West Village oor die manier waarop inwoners vir elektrisiteit moet betaal.

‘n Groep inwoners het wéér aan die news verduidelik dat hulle eerder die voorafbetaalde meters as die konvensionele meters, wat in Maart vanjaar op hulle afgedwing is, verkies.

Met hulle maandelikse elektrisiteitsrekeninge in die hand het die inwoners dit duidelik gestel dat hulle baie meer per maand betaal as toe die voorafbetaalde meter in gebruik was.

Eric van Lelyveld sê hy kan nie verstaan waarom West Rand Power Distributors (WRPD), wat ingevolge ‘n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) verantwoordelik is vir elektrisiteitsvoorsiening in West Village, van ‘n stelsel wegbeweeg terwyl die res van die land daarheen omskakel nie.

“Terwyl die land van konvensionele meters na voorafbetaald oorskakel, skakel hulle weer na die verouderde stelsel terug. Ons wil self ons lesings sien en dit beheer, want tans word die elektrisiteitsbokse buite met ‘n slot toegesluit.”

Chris Grobler, eienaar van WRPD het vroeër gesê dat die stelsel met die huidige voorafbetaalde meters verouderd is.

“As gevolg van die spesifieke behoeftes van ons netwerk is dit nie lewensvatbaar en koste-effektief om die huidige stelsel op te gradeer nie. Daar is bewyse dat die stelsel ook sensitief is vir weerlig, wat al in die verlede veroorsaak het dat ons verbruikers sonder elektrisiteit was en ‘n verleentheid vir ons besigheid is.”

Hy het genoem dat inwoners ‘n moniteerbare meter binne hulle huise teen ‘n koste van R400 per meter kan kry.

‘n Groot getal inwoners leef slegs van ‘n pensioentoelaag en sê dat hulle nie die ekstra kostes kan betaal nie.

Inwoners soos Nanikie Masango sê sy kon voorheen met R300 se elektrisiteit per maand oor die weg kom, maar deesdae kos dit haar R1 200 per maand.

“Dit is ‘n groot deel van my maandelikse salaris; geld wat ek nou nie het om kos te koop nie.”

Sy sê daar is ‘n groot kommunikasiegaping tussen hulle en die bestuur van WRPD.

“Wanneer ons vra om met hulle te praat, word daar net gesê ons kan met hulle prokureurs praat.”

Themba Mpofu sê sy elektrisiteitskoste is nes baie ander s’n baie hoër as die huis se maandelikse verbandkoste.

Nog ‘n probleem op die inwoners se agenda is dat hulle BTW op die totale bedrag moet betaal.

“Waarheen gaan die belastinggelde? Sover ek weet is inwoners van munisipale gebiede daarvan vrygestel.”

Daar is ook nie werkende straatligte in die woongebied nie. Volgens inligting wat die news bekom het, is dit WRPD se verantwoordelikheid om straatligte te voorsien en in stand te hou.

Die inwoners se bewerings dat die konvensionele meters nie deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde goedgekeur is, kon nog nie bevestig word nie.

Vrae vir kommentaar is aan Grobler gestuur, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version