Local newsNews

Beseerde word van ventilator gespeen

Die 20-jarige man wat vroeër vandeesmaand in 'n ongeluk betrokke was is nog in die waakeenheid.

Al is hy nog koorsig gaan dit reeds stukke beter met Quinten Wagner, 20, wat twee weke gelede in ‘n ernstige motorfietsongeluk in Krugersdorp-Noord betrokke was.

Sy ma Monique sê alhoewel hy nog in die Netcare Milpark Hospitaal aan ‘n ventilator gekoppel is, kyk hy rond en kry die nodige voeding.

“Hy is nie meer onder sedasie nie. Die mediese personeel probeer ook nou om hom van die ventilator te speen.”

‘n Sonar is van sy arm geneem omdat dit ‘n rooi kleur het. Daar is vasgestel dat daar ‘n bloedklont in sy arm gevorm het.

“Op die oomblik is hy nog op pynstillers.”

Wagner se motorfiets en ‘n bakkie het op 5 September by die kruising van Onderste- en Derdestraat gebots, waarna sowat 20 omstanders op hom toegesak het.

Hy is aan sy gebreekte arms gegryp en in die pad gesleep. Hulle het sy valhelm en rugsak van hom afgepluk en boonop oor sy skoene baklei.

Lede van die publiek het ingegryp en die nooddienste ontbied. ‘n Helikopter van Netcare 911 het hom na die hospitaal vervoer waar hy steeds in die waakeenheid is.

Tshepiso Mashale, ‘n polisiewoordvoerder sê sy kan nog nie kommentaar oor die voorval lewer nie omdat die Wagners nog nie ‘n saak by die polisiestasie geopen het nie.

Verwante artikel:

• Boewe baklei oor beseerde se skoene

Back to top button