Boewe baklei oor beseerde se skoene

'n Motorfietsryer is na 'n botsing aan sy arms in die pad gesleep waarna sy valhelm en rugsak van hom afgepluk is.

Oomblikke nadat ‘n 20-jarige man van Dan Pienaarville in ‘n ernstige ongeluk betrokke was is hy aan sy gebreekte arms rondgesleep en beroof.

Quinten Wagner se motorfiets en ‘n voertuig het op die hoek van Onderste- en Derdestraat gebots waarna ongeveer 20 omstanders op hom toegesak het.

“Hy is onmiddellik aangeval,” sê sy ma Monique wat vroeër vanjaar by was toe sy pa Hennie voor hulle huis deur rowers doodgeskiet is.

Quinten Wagner voor die ongeluk. Foto: facebook.

“Ek het gehoor dat hulle hom aan sy arms gegryp het en in die pad gesleep het. Daarna het hulle sy valhelm en rugsak van hom afgepluk en boonop oor sy skoene baklei!”

Sy sê lede van die publiek het gesien wat gebeur en ingegryp.

“Ons weet nie of sy arms so erg gebreek is tydens die ongeluk of toe hy daarna rondgesleep is nie,” sê sy.

“Hy was in daardie stadium nog redelik by sy bewussyn en kon darem uitwys waar hy oral pyn gehad het.”

Lede van die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum was ook blitsig op die toneel. Hulle het paramedici bygestaan totdat Netcare 911 se helikopter opgedaag het, sê Pieter Sparks, voorsitter van dié forum.

Monique sê haar seun moes ses sakkies bloed kry nadat hy in Netcare Milpark Hospitaal opgeneem is. Hy het intussen reeds drie operasies ondergaan – twee keer is daar aan sy lewer gewerk en penne is in sy gebreekte arm ingesit.

“Terwyl hulle sy lewer ondersoek het, is daar vasgestel dat daar ook probleme met sy pankreas is.”

Altwee Wagner se arms, ses ribbes en ‘n sleutelbeen is gebreek. Weens die pyn word hy steeds onder sedasie gehou en is aan ‘n ventilator gekoppel.

“Al wat ons nou kan doen is bid. ‘n Skandering kon eers Saterdag gedoen word omdat sy toestand volgens die dokter tot in daardie stadium te onbestendig was. Daar is toe vasgestel dat hy heelwat inwendige beserings opgedoen het.”

Wagner sê haar seun, een van ‘n tweeling, slaap heeltyd.

“Sy tweelingsussie Monezta is nog rusteloos en was in ‘n toestand toe sy van haar boetie se ongeluk hoor.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version