Bedelaar eintlik aspirant komediant

Hy hou daarvan om mense te laat lag.

By meeste verkeersligte in Krugersdorp is bedelaars ‘n te algemene verskynsel, maar een gereelde gesig staan uit in die skare.

Die news het onlangs by ‘n verkeerslig in Albertina Sisuluweg in middagverkeer op Oscar afgekom.

Alles van Oscar (wat nie sy van wou deel nie) verskil van die algemene plaaslike bedelaarsprofiel.

As Oscar motoriste benader glimlag hy van oor tot oor. Hy sê nie ‘n woord nie want sy pittige plakkate doen die praatwerk.

Sy nuutste plakkaat lees: “Vrou en hond vermis, beloning vir die hond.” Die woorde laat veral die mans lekker lag en die munstukke val een na die ander in sy blikkie.

Oscar, wat vlot Afrikaans praat, sê hy hou daarvan om mense te laat lag, daarom trek hy soms ‘n snaakse uitrusting aan of dra ‘n vreemde bril.

“As ek nie baie geld maak nie het ek darem ‘n paar mense laat lag,” sê hy.

Hy sê dat hy soms self norse motoriste uitvang dat hulle skelm vir hom lag.

Oscar vertel dat hy in die area skoolgegaan het. Omdat hy nie sy skoolloopbaan voltooi het nie sê hy dat hy maar sukkel om ‘n werk te kry. Hy noem tog dat hy nog altyd ‘n komediant wou wees en dat hy baie daaroor droom.

Vir hom is dit belangrik om te droom want hy voel dit hou hom jonk.

“Bedel is ook net ‘n deeltydse ding vir my, party dae loop ek net en soek werk en so nou en dan slaan ek ‘n tydelike werkie los,” vertel hy.

As jy volgende keer verby Oscar ry, lees gerus sy bordjie. Daar staan niks van sy ses kinders daarop nie.

“Dis omdat ek enkellopend en kinderloos is,” sê hy terwyl hy knipoog.

Exit mobile version