Mogale erken rioolprobleem by hospitaal

Kanse is goed dat verouderde pype en infrastruktuur eenvouding nie meer die rioollading kan dra nie.

Die riool wat tans uit die Dr Yusuf Dadoo Hospitaal se perseel na die Blougatspruit vloei het groot kommer in die dorp gewek.

Na aanleiding van die artikel op die news-voorblad van 1 Augustus, Raw sewage spillage, het Vryheidsfront Plus raadslid Amanda de Lange die situasie verder ondersoek.

“Rou riool hou geweldige gesondheids- en omgewingsbedreigings vir mens en dier in. Mogale City stadsraad weet lankal van die probleem,” sê De Lange.

Sy noem ook dat die Blougatspruit een van die grootste voedingsare van die Wieg van die Mensdom se ondergrondse watertafel is.

“Dit is duidelik dat die betrokke hospitaal geen onderhoud aan die sekuriteitsheining of mangate doen nie. Met my besoek aan die probleemarea was verskeie groot mangate sonder bedekking. Mogale City het onderneem om sementblokke bo-oor die gate te sit om so te verhoed dat mense of diere per ongeluk daarin beland.”

Sy sê ook dat die kanse goed is dat verouderde pype en infrastruktuur eenvouding nie meer die rioollading kan dra nie en opgraderingswerk dringend nodig is.

Nog ‘n probleem is rommelstorting.

“Dit is weersinswekkend dat mense en besighede hul vullis en bourommel eenvoudig op ‘n oop stuk grond in die dorp stort. Ons het mense teëgekom wat rommel van ‘n werksvoertuig wou aflaai.

“Mogale City het erken dat daar indringend na die rioolsisteem van die hospitaal gekyk moet word.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version