Outydse motors kry lewe

'n Afgetrede treindrywer van West Village se gesig helder op wanneer hy oor sy outydse motors praat.

Tienie van Niekerk (75) van West Village se gesig helder sommer op wanneer hy oor sy liefde vir outydse motors praat.

Met ‘n glimlag wys hy trots een van sy pragstukke, ‘n 1946 Ford Lincoln Club Coupe uit.

“Hierdie motor is, sover ek weet, die enigste een in die land en omdat dit so skaars is, is dit vir my een van my spesiaalste besittings.”

Sy vrou Bettie (72) knik haar kop ooreenstemmig en sê sy moes haar man se liefde vir motors oorerf het, “want ek geniet dit net só!”

Dié motor, een van vier outydse motors, het hy twintig jaar gelede by sy nou oorlede vriend Dries Slabbert gekoop. Met deursettingvermoë, baie tyd en geld kon hy die motor, wat in sy 68ste jaar slegs 47 223 myl (75 998km) afgelê het, weer kry om op die pad te loop.

Tienie van Niekerk (75) met Ford se boek waarin al die motors wat hulle van 1903 tot 1990 vervaardig het.

Hy wys in ‘n Ford-boek oor die motors wat gedurende 1903 en 1990 vervaardig is, dat dié kar een van slegs 256 is wat ooit vervaardig is.

“Die eerste eienaar, ‘n professor van Heidelberg het dit destyds van die Verenigde State van Amerika laat invoer.”

Dié meganiese pragstuk was selfs al by verskeie motorskoue te sien en Van Niekerk sê die mense raak kwaad vir hom as hy nie dié motor skou toe neem nie.

“Die mense hou van hom, maar ek ry nie graag met hom rond nie – ek is bang mense ry dalk in hom vas. Waar gaan ek dan parte vir hom kry?”

Oor die jare heen het Van Niekerk al sowat 17 outydse motors besit, maar het reeds 13 versamelstukke verkoop.

“As ek geweet het dit sou later meer werd wees sou ek dit heel moontlik nie toe al verkoop het nie,” sug Van Niekerk.

Tienie van Niekerk (75) langs sy 1939 Ford bakkie waarvoor hy ‘n spesiale uitnodiging van Ford ontvang het om dit by hulle 100ste bestaansjaarvieringe uit te stal.

‘n Blou 1939 Ford bakkie wat hy in 1992 in Pretoria gekoop het, het hom ook baie tyd en geld gekos, maar hy sê dit was ook vir hom die moeite werd.

“Die bakkie was al by talle skoue gewees. Ek het selfs ‘n spesiale uitnodiging van Ford gekry om dit by hulle 100ste bestaansjaarvieringe uit te stal.”

‘n 1930 Ford Model A, wat hy van ‘n skrootwerf gered het, het 476 138 myl (76 6270km) op die klok.

Hier wys Tienie van Niekerk (75) hoe eenvoudig die enjin van sy 1930 Ford Model A motor was.

“Dié motor het baie werk gekos. Toe ek dit koop was dit eintlik net ‘n geraamte en moes dit met ‘n vervoertrok na my huis gebring word.”

Die afslaanseil op die motor het sy vrou self gemaak, verduidelik hy.

“Sy het deur boeke geblaai om seker te maak sy maak dit so na as moontlik aan die oorspronklike.”

Vandag word hierdie motor vir troues en matriekafskeide gebruik.

“Ek het selfs ‘n toeter geïnstalleer om dit ‘n bietjie meer pret te maak,” vertel hy met ‘n glimlag.

Tienie van Niekerk (75) se 1935 Ford Fordor wat agter die 1930 Ford Model A geparkeer staan.

Sy 1935 Ford Fordor wat agter die 1930 Ford Model A geparkeer staan, sê hy loop nog sonder probleme.

Dié afgetrede treindrywer sê hy het van jongs af reeds ‘n liefde vir motors.

“Ek het nog altyd van outydse motors gehou, maar vroeër kon ek dit nie bekostig nie. Ek kon eers in 1989 my drome om ou motors te besit in ‘n werklikheid verander.”

Alhoewel hy steeds ‘n groot belangstelling in ou motors het, sê hy dat dit ‘n baie duur stokperdjie geword het.

“Om die motors aan die gang te kry raak al hoe moeiliker. Die parte wat van die VSA ingevoer moet word raak al hoe duurder.”

Soortgelyke stories:

‘n Spog-geleentheid by karskou

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version