The Bethany House vir ‘n slag bederf

Die Ruimsig Gemeente sê vir hulle gaan dit oor hoe om die gemeenskap te dien en op watter manier hulle iets kan gee sonder om iets terug te verwag.

Die Ruimsig Gemeente het vir ‘n dag in die skoene van The Bethany House Trust se personeel geloop as deel van hulle gemeenskapsprojek vir Internasionale Mandela Dag.

Stefan Zeelie van die Ruimsig Gemeente sê hulle gee gereeld aan die gemeenskap terug.

“Ons as gemeente soek elke kwartaal ‘n gemeenskap wat ons kan ondersteun en het hierdie keer besluit om The Bethany House ‘n bietjie te bederf.”

Hy sê vir hulle gaan dit oor hoe om die gemeenskap te dien en op watter manier hulle iets kan gee sonder om iets terug te verwag.

“By The Bethany House is daar reeds soveel mense wat ‘n verskil in ‘n ander se lewe maak en ons wil vir hulle sê ‘Ontspan, laat ons julle werk vir julle doen en dit so bietjie vir julle ligter maak’,” sê Zeelie.

Hulle het twee spanne wat elk ‘n bydrae gelewer het om vir die kinders sowel as die personeel ‘n heerlike middagete voor te berei.

“Ons het ook ander werk wat die personeel daagliks doen, soos stoepe vee en tafels dek van hulle afgeneem. Dis hulle beurt om vir ‘n slag asem te skep.”

Die gemeente het ook komberse aan Mogale 4 Christ geskenk as deel van hulle projek om 100 komberse in 10 dae in te samel.

Exit mobile version