Bakkie beland in Kroningsdam

Die nooddienste en die polisie is ontbied toe 'n kragbootentoesias die bakkie in die water gesien het.

‘n Bantam-bakkie is gisteroggend (13 Julie) uit die Kroningsdam verwyder nadat die bestuurder en sy passasier glo eergisteraand daar ingery het.

Nooddienspersoneel, die Krugersdorpse polisie asook lede van die Johannesburgse Waterpolisie is vroegoggend reeds na die toneel ontbied toe kragbootentoesiaste die bakkie in die water sien.

Mike Pericich, 46, sê hy het die polisie en die nooddienste omstreeks 7vm geskakel terwyl hy besig was om sy kragboot reg te kry.

“Ek was geskok toe ek die voertuig in die dam sien – ek het nie geweet of daar mense binne-in die bakkie was nie.”

Riaan van Dyk wat saam met vriende en familie by die dam uitgekamp het sê die bestuurder van die bakkie en sy passasier het reeds omstreeks 10nm die vorige aand in die dam ingery.

Majoor Frans Langeveldt (links) en adjudant-offisier Dean Scudder (regs) help vir sersant Silence Malotsi met sy duikpak voordat hy gaan seker maak dat niemand meer in die bakkie (agter) was wat in die dam beland het nie.

“Ons het om die braaivleisvuur gesit toe ons die voertuig se enjin hoor luier. Na ‘n paar sekondes hoor ons net hoe die petrol hard getrap word en die voertuig in die water beland.”

Hulle het toe na die toneel gehardloop en gesien hoe die bestuurder asook die passasier na veiligheid swem.

Van Dyk sê hulle is aangeraai om huis toe te gaan om warm klere aan te trek.

“Dit was ‘n baie koue aand. Ons het gedink hulle sou weer terugkom, maar hulle het nie.”

Sersant Silence Malotsi in die koue water waar hy gaan seker maak het dat daar niemand meer in die bakkie (agter) was nie.

Die news verstaan dat die bestuurder en sy passasier glo onder die invloed van alkohol was, maar dit is nie bevestig nie.

Sersant Silence Malotsi van die Johannesburgse Waterpolisie het sy duikpak aangetrek en is die koue water in om vir oulaas seker te maak dat niemand in die voertuig was nie voordat dit deur ‘n insleeptrok uitgetrek is.

Omstanders en nuuskieriges het by die oewer begin saamdrom en sommiges het selfs foto’s en video’s geneem.

Exit mobile version