Plaaslike bejaardes vra VF Plus om hulp

"Dit is skrikwekkend dat bejaardes wat hulle lewe lank moes spaar om ‘n neseier te verseker, nou deur die munisipaliteit uitgebuit word."

Sowat 80 pensioenarisse van Featherbrooke Village het op raadslid Amanda de Lange van die VF Plus se uitnodiging gereageer nadat sy in ‘n berig in die news gekla het oor die foute wat in die Mogale City-waardasierol voorkom.

Die pensioenarisse het besluit om haar te nader nadat hulle geen antwoorde op hul vrae van die Mogale City Munisipaliteit ontvang het nie.

‘n Groot aantal van die selfversorgende pensioenarisse wat op die landgoed bly het verskeie kere tevergeefs na die munisipale kantore toe gegaan met navrae oor die waardasierol en om aansoek te doen vir afslag.

Baie van die eenhede verskyn nie eers op die waardasierol nie maar hulle ontvang maandeliks ‘n rekening van die munisipaliteit. Ander kla weer oor hul diensterekening wat die hoogte inskiet.

De Lange sê dit is skrikwekkend dat bejaardes wat hulle lewe lank moes spaar om ‘n neseier te verseker, nou deur die munisipaliteit uitgebuit word. Van die inwoners betaal nou twee keer soveel as voorheen.

Een so ‘n bejaarde moet R1 178 aan belasting vir ‘n klein kothuis betaal.

“Ek het reeds tydens ‘n raadsvergadering teen die goedkeuring van die waardasierol gestem. Die rol is deurspek met foute. Ons kan dit nie goedkeur nie. Dit is so dat bejaardes beskerm moet word en die stadsraad korting aan bejaardes moet toestaan. Ek is besig om die saak te ondersoek en gaan die munisipaliteit daaroor uitdaag,” sê De Lange.

Exit mobile version