Koppie liefde ten bate van Kansa

Talita Janse van Rensburg, 'n Mev Suid-Afrika finalis van Krugersdorp het R35 000 vir Kansa ingesamel.

Vir Talita Jansen van Rensburg, ‘n Mev Suid-Afrika finalis was dit ‘n hartseer oomblik toe sy oor kanker se bose kant gepraat het.

“Trane van hartseer kan ek nooit terughou nie. My skoonpa is na ‘n pynlike stryd teen kanker oorlede, maar my ouma wat die familie aanmekaar hou en ‘n vrou van formaat is, het kanker oorwin.”

Só het sy aan sowat 240 gaste vertel wat haar Cuppa for Cansa-funksie by Avianto in Muldersdrift bygewoon het.

Hester Levin, Tiannie Theunissen en Elize Coetzer het die Cuppa for Cansa-funksie by Avianto in Muldersdrift baie geniet.

Kansa (Kankervereniging van Suid-Afrika) is die amptelike niewinsgewende organisasie wat sy as ‘n Mev Suid-Afrika finalis moet ondersteun en is ook een van hulle take.

“Cuppa for Cansa word aangebied om kankerbewusmaking in ons gemeenskap te bevorder en ook om fondse vir Kansa in te samel,” sê Jansen van Rensburg.

Die tema was Tee in die Biblioteek en dit was die fokuspunt vir bespreking. Verskeie sprekers het die dag saam met haar en haar ander gaste deurgebring, onder andere Petra Lewis (Suid-Afrikaanse Terapeutiese Perdry-vereniging), Carol Kriel (Helpmekaar Kollege) en Munnik Marais (Kansa) wat vir die gaste van hulle eie ervarings met kanker vertel het.

Carol Kriel van Helpmekaar Kollege kry ‘n spreekbeurt.

“Die tema was Gister, Vandag en Môre. Almal het ‘n storie van sukses en mislukking en dié tema simboliseer ons lewenstories in ons eie lewensbiblioteek.”

Gedurende die funksie is daar heerlik saam gekuier, lekker soet en sout verversings geniet en sowat R35 000 vir Kansa ingesamel.

Jansen van Rensburg, wat ‘n produkontwikkelaar is en in glas- en keramiekversiering spesialiseer, het ook spesiaal ontwerpte bekers deur Jeanette Sclebush teen R50 ‘n paar te koop aangebied waarvan R15 aan Kansa geskenk word.

“‘n Beker is altyd ‘n goeie besluit, want almal geniet dit om die een of ander tyd ‘n warm drankie te geniet.”

Talita Jansen van Rensburg, ‘n Mev Suid-Afrika finalis van Krugersdorp spog hier met die bekers wat sy spesiaal laat maak het om geld vir Kansa in te samel. Saam met haar is Munnik Marais, Kansa se hoof van sakeontwikkeling.

Sy sê die bekers is ontwerp om kankerbewusmaking te skep.

“Ek glo dat dit bespreking sal uitlok oor wat die betekenis daaragter is. Kansa het my ouma so goed tydens haar stryd teen kanker ondersteun dat dit die minste is wat ek vir hulle kan doen om dankie te sê.”

Jansen van Rensburg sê die oggendfunksie was vir haar ‘n baie lekker ervaring.

“Om ‘n Cuppa for Cansa-funksie aan te bied gee jou nie net kans om bewusmaking te skep nie, jy kan ook tyd saam met familie en vriende spandeer – en aan ‘n lekker stukkie koek peusel!”

Die bekers is beskikbaar by Fanél Decor se vertoonskamer in Ruimsig en is ook aanlyn te koop.

Vir meer foto’s kliek hier.

Exit mobile version