Local newsNews

Brandweerman wéér onder bestes

'n Brandweerman het 'n algehele tweede plek behaal tydens die onlangse nasionale Toughest Firefighter Alive-kompetisie wat in Kaapstad gehou is.

‘n Plaaslike brandweerman het die eerste plek in die onlangse nasionale Toughest Firefighter Alive-kompetisie met 16 sekondes misgeloop.

Manie Gouws (36), ‘n inwoner van Krugersdorp-Noord het aan die begin van Junie aan die derde been van dié kompetisie, wat in Kaapstad gehou is, deelgeneem. Daar het hy teen meer as 130 nooddienspersoneel meegeding om te wys wie die bestes onder die beste is.

Elke deelnemer moes vier afdelings voltooi wat behels het om met ‘n brandslang te hardloop, ‘n hindernisbaan te voltooi, teen ‘n toring op te klim en trappe te klim.

Gouws sê hierdie afdelings moet so gou maar akkuraat as moontlik voltooi word. Deelnemers kry 10 minute vir elke afdeling – vyf minute om die afdeling te voltooi en ‘n verdere vyf minute rustyd. Vir elke fout wat begaan word, word straftyd van 20 sekondes bygevoeg.

“Die kompetisie was baie strawwer vanjaar en ek kon sien dat al die deelnemers goed voorbereid was. Ek het geweet ek sal baie harder moet werk om weer onder die top 3 te eindig.”

Gouws het verlede jaar ‘n algehele tweede plek behaal en ook die beste tyd in die trappeklimafdeling opgestel. Hy het ‘n eerste plek in sy ouderdomsgroep van 35 tot 39 jaar behaal.

“Dié prestasies het my die heeltyd bygebly toe ek sien hoe goed die ander deelnemers dié jaar vaar.”

Gouws sê die organiseerders het die top 10 deelnemers van verlede jaar in die laaste vyf plekke ingedeel sodat hulle teen mekaar kon deelneem. Dit het die kompetisie meer opwindend gemaak.

“Dit was baie moeilik om by te bly.”

Hy het weer in die algehele tweede plek geëndig in ‘n tyd van agt minute en 10 sekondes, slegs 16 sekondes na die wenner wat uit die 18 tot 29 jaar ouderdomsgroep was.

“Ek het ook my eie rekord van verlede jaar in die trappeklim met 37 sekondes verbeter, asook my eie algehele tyd met een minuut en 45 sekondes verbeter.”

In sy oudersomsgroep het hy met ‘n gouemedalje weggestap.

“Die organiseerders wil vanjaar se beste deelnemers volgende jaar Duitsland toe stuur om aan die Internasionale Toughest Firefighter Alive-kompetisie deel te neem – mits daar genoegsame borge is.”

Gouws sê voorts dat die genade van God en harde werk dit vir hom moontlik gemaak het om weer goed te presteer.

“Ek is heel tevrede met my deelname en gaan vir seker volgende jaar harder werk om met die kroon weg te stap.”

Hy gaan in September ook aan die Firefighter Rescue Challenge deelneem waar hy sy titel moet verdedig.

Soortgelyke artikels:

Vuur is sommer speletjies in dié kompetisie

G’n brand behoort dié brandweerman te stuit nie

Back to top button