Local newsNews

Net ‘n wasgoedmandjie oor na verwoestende brand

'n Gesin van vier is haweloos na 'n huisbrand in West Village.

‘n Wasgoedmandjie met ‘n paar items klere is al wat Wayne Marais (35) vir sy gesin uit die vlamme kon red toe ‘n brand vroegoggend by hul huis in West Village uitbreek.

Dit was net voor 7vm op 1 Junie, vertel Marais, toe hy rook in die huis ruik.

“Ek het in elke vertrek gaan kyk waar die reuk vandaan kom, maar dit was eers toe ek in die voorhuis instap en die oranje vlamme deur die plafon sien lek dat ek besef het wat alles moontlik kan gebeur,” vertel hy.

Hy sê hy het dadelik vir sy vrou geskree om hul vier- en vyftienjarige seuns uit die huis te kry.

“Ek het ‘n wasgoedmandjie met my uniform en ‘n paar kledingstukke van my kinders gegryp voor die vlamme my uit die huis gejaag het,” vertel hy.

Die Marais’ het die brandweerdiens ontbied en intussen tevergeefs probeer om self die vlamme te blus waarin hulle huis en besittings gehul was.

Wayne Marais en sy gesin is haweloos nadat hul huis met hul besittings daarin afgebrand het.
Wayne Marais en sy gesin is haweloos nadat hul huis met hul besittings daarin afgebrand het.

“Brandbestryders het alles in hul vermoë gedoen maar dit was te laat; ons moes staan en kyk hoe al ons besittings en dekades-oue erfstukke in as verander,” vertel ‘n emosionele Marais wat probeer sterk bly vir sy gesin.

Marais wat ‘n loonwerker is vertel dat so ‘n tragedie sy grootste vrees was omdat hy nie versekering kan bekostig nie.

Toe die brandweerdiens die laaste vlamme blus moes die Marais’ met die realiteit saamleef dat hulle haweloos is.

Bure wat hulle voor die brand nie eers geken het nie, het tydelik ‘n kamer in hul huise vir die Marais-gesin aangebied.

Intussen sê Marais, “Dit is maar moeilik om optimisties te bly as jy nie weet waar jy môre gaan slaap nie.”

Die oorsaak van die brand word deur die owerhede ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button