By Noordheuwel is dit vet pret

Hoërskool Noordheuwel het vanjaar besluit om hulle ouerinligtingsaand sowel as die Graad 7-opedag op 'n interessante manier aan te bied.

By Hoërskool Noordheuwel kon die Graad 7-ouers en -leerlinge vir ‘n slag oor die rooi tapyt stap.

Die tema van vanjaar se ouerinligtingsaand was die Oscar-toekenningsgeleentheid en elke ouer is vriendelik verwelkom. Daar is selfs ‘n pizza-bederf aan die gehoor uitgedeel.

Karlien Steyn, bemarker van die skool sê hulle het op hierdie tema besluit omdat hulle vanjaar se inligtingsaand interessanter wou maak. “Ons wou nie net inligting oor die skool aan ouers deurgee nie.”

Sy sê dat dit ‘n reuse sukses was omdat hulle al die nodige inligting kon gee en dit boonop ‘n glansgeleentheid maak.

“Ons hoofleiers en onderhoofleiers het ongelooflik mooi gelyk. Hulle het twee-twee die verskillende kategorieë aangekondig en die toekennings oorhandig. Voor elke oorhandiging het daar inligting en foto’s op die skerm verskyn wat getoon het hoekom Noordheuwel die spesifieke toekenning moet ontvang.”

Die ouerinligtingsaand is opgevolg deur die opedag die volgende dag waarvoor meer as 500 Graad 7’s opgedaag het.

Die tema van hierdie jaar se opedag is op rolprente gebaseer en dié keer was dit die Graad 7’s se beurt om op Nories se rooi tapyt te stap.

Die laerskoolleerlinge is in groepe verdeel en elke groep is volgens ‘n rolprenttema opgemaak.

Rolprente soos Frozen, Monsters Inc en Alice in Wonderland was duidelik van die gunstelinge. Die Graad 7’s het tussen vyf rotasiepunte beweeg waar hulle meer van die skool asook dit wat die skool aan hulle bied kon ervaar.

Steyn sê dié dag was ook ‘n groot sukses.

“Ons opedag is elke jaar ‘n groot hoogtepunt op die Norie-kalender en ‘n dag waarop die hele skool soos een man saamwerk. Die gees van die Graad 7’s en ons Graad 11’s wat as groepleiers opgetree het, was aansteeklik!”

Ouers het nog kans tot 27 Mei om hul kinders by Noordheuwel in te skryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version