Local newsNews

Bedel? Nie ons nie!

Die paartjie weier om deel te word van die groeiende bedeltendens in Krugersdorp al is hulle ook hoe platsak.

Toe brandstof- en kospryse die lug inskiet en hul pensioen net nie meer genoeg was nie het Debbie en Marius Prinsloo ‘n plan gemaak.

As jy verby die Prinsloo’s se huis in Mindalore ry, lyk dit kompleet soos ‘n algemene handelaar op die sypaadjie voor hul erf. Die egpaar vertel dat dit hul poging is om aan die lewe te bly, want bedel sal hulle nie.

Debbie wat van ‘n skarpse ongeskikheidspensioen afhanklik is, vertel dat die items wat daagliks op ‘n seil langs hul huis te koop aangebied word “maar allerhande huishoudelike goed is wat óf aan ons geskenk is, óf goed is wat ons self nie meer gebruik nie”.

Van ou klere tot ‘n paar ‘n sakke meel, gereedskap, selfs ‘n meubelstuk of twee, en sommer enige bruikbare huishoudelike item word vroeg elke oggend uitgepak en ‘n prys gegee.

“Vir die klere vra ons R5 stuk,” vertel sy.

Tydens ‘n onderhoud met die NUUS het ‘n klant vyf oorpakke kom haal wat hy vroeër vir R20 elk gekoop het.

“Daardie R100 gaan handig te pas kom; ons moet hondekos en krag koop,” vertel sy.

Sy vertel dat hul party weke tot R300 maak en dat daar dan tye is dat hulle geen klante het nie.

“Jy staan maar op met ‘n positiewe gesindheid want môre kom daar dalk nog skenkings of ‘n klant wat lus is vir spandeer,” skerts sy.

Debbie en Mariuis vertel dat dit maar ‘n uitdaging is om werk te kry omdat Debbie aan disleksie ly en haar man se aansoeke afgekeur word omdat hy nie genoeg ervaring in enige veld het nie.

“Maar ons soek elke dag werk en doen los werkies waar ons kan,” sê Marius.

Toe die egpaar gevra is of hulle nie maar eerder by die groeiende getal bedelaars by Krugersdorp se verkeersligte wil aansluit nie het hulle dadelik aanstoot geneem en beklemtoon dat dit “teen ons beginsels” is.

Back to top button