Sanger Candy Benson kort jou stem

Dié sangsensasie van Krugersdorp is onlangs vir die Ghoema's genomineer en kort hulp van die gemeenskap om haar drome te help waar maak.

Niks kan nou Krugersdorp se eie sangsensasie Candy Benson keer nie.

Vir jare lank droom sy reeds om skouers met al die gevestigde kunstenaars in die musiekbedryf te skuur en aan hulle te wys dat sy beslis die talent het en groot kan gaan.

Nou moet sy net besluit watter aandrok sy gaan aantrek nadat sy onlangs vir ‘n Ghoema, ‘n musiektoekenning wat die beste in die Afrikaanse musiekindustrie vereer, genomineer is vir beste nuweling met haar album Niks kan my keer nie.

Sy het self nie eens geweet dat sy haar grootste doelwit bereik het nie.

“‘n Bewonderaar op facebook het my hieroor ingelig. Ek dank God die heeltyd vir al my seëninge – ek was in die wolke hieroor.”

Candy vertel heel beskeie dat dit baie vir haar loopbaan sal beteken as sy die toekenning sou wen, maar net om genomineer te wees is vir haar klaar reeds ‘n baie groot prestasie.

Haar loopbaan het begin toe sy maar ‘n klein dogtertjie van nege was en sy sê dat sy nie haarself iets anders kan sien doen nie.

“Om te sing is my enigste liefde en passie! Ek kry baie inspirasie van my rolmodelle soos Christina Aguilera en Celine Dion.”

Baie van die liedjies op haar album, waarvan sy self ook lirieke geskryf het, dra ‘n betekenisvolle boodskap oor en sy glo dat ander mense wat daarna luister ook daarmee sal kan identifiseer.

Omdat sy ‘n Krugersdorper in murg en been is en nie skaam is oor waar haar wortels lê nie, het sy haar gemeenskap nodig om haar te help deur vir haar te stem.

“Ek glo almal in Krugersdorp weet dat ek my hele lewe in my sangloopbaan ploeg en dat ek altyd bereid is om my tyd op te offer vir enige liefdadigheid en om ‘n verskil in my gemeenskap te maak.”

Om vir haar te stem, sms die kode F2 na 41808. Sms’e kos R1,50 en daar kan slegs 20 stemme per kategorie per unieke selfoon nommer gedoen word.

Die publiek kan tot Saterdag 5 April 12vm stem.

Exit mobile version