Oop gat kelder amper seun se karatetoekoms

'n Seun (16) het die stopkraan van 'n waterpyp rakelings gemis toe hy sowat twee meter ver in 'n gat langs Shannonweg ingeval het.

‘n Seun se kanse om aan ‘n karatewêreldkampioenskap deel te neem is amper gekelder toe hy op 19 Maart sowat twee meter ver in ‘n gat geval het.

Kobus Myburgh (16) het wonderbaarlik net beserings aan sy linkerwang, -arm en -been opgedoen toe hy ‘n groot stopkraan heel onder, wat met ‘n groot waterpyp verbind is, met rakelings gemis het.

“Ek kon lelik seergekry het as ek my kop daarteen gestamp het of met my rug daarop geval het – of dit kon erger gewees het.”

Die ongeluk, sê hy, het gebeur tydens ‘n hokkieoefening van die Khosa Hokkieklub skuins voor 7nm.

“Ons was besig om te oefen en ek het agteruit gehardloop sodat ek kon sien wat my vriende in die span doen toe ek my balans verloor en in die gat geval het.”

Hierdie gat van een vierkante meter is reg langs Krugersdorp High School op die sypaadjie van Shannonweg en Kobus sê sover hy weet is dit al vir ‘n geruime tyd oop.

By nadere ondersoek het dit vir die NUUS gelyk of daar nog nooit enige deksel oor die gat was nie en die enigste veiligheidsmaatreël is ‘n lae baksteenmuurtjie rondom die gat.

Kobus sê indien hy erg seergekry het, sou hy in Mei vanjaar die JSKA Karate Wêreldkampioenskap in Italië misgeloop het.

“Alles vir hierdie kampioenskap is reeds betaal en dit sou ‘n groot verlies gewees het. Ek sou natuurlik baie ontsteld gewees het as ek dit nie sou kon bywoon nie.”

Exit mobile version