Local newsNews

Kragvoorsiener vryf inwoners verkeerd op

Inwoners van West Village is kwaad omdat hulle kragvoorsiener 'n meter wat vir hulle werk met 'n ander een wil vervang.

Verskeie inwoners van West Village is ontevrede dat hulle kragvoorsiener aan die einde van die maand die manier wil verander waarop hulle tans vir hulle elektrisiteit betaal.

Daarom het dié inwoners op 15 Maart as ‘n gemeenskap bymekaar gekom om hulle griewe oor die nuwe beplande sisteem met mekaar te deel en ook ‘n petisie op te stel om hulle ontevredenheid daaroor te toon.

Dit volg nadat West Rand Power Distributors (WRPD) ‘n kennisgewing aan die inwoners uitgestuur het dat hulle al die voorafbetaalde meters met konvensionele meters gaan vervang.

Daarvoor word ‘n deposito van R1 500 verlang, wat maandeliks afbetaal kan word indien die bedrag nie eenmalig betaal kan word nie.

Inwoners soos Eric van Lelyveld sê hulle is teen die nuwe meters gekant, waarvan lesings volgens die kennisgewing op die 15de van elke maand geneem sal word.

“Ons is heel gelukkig met die voorafbetaalde meters waar ons self beheer kan uitoefen oor ons elektrisiteitsverbruik, maar nou wil die kragvoorsiener ons in ‘n rigting druk.”

Nog inwoners het genoem dat hulle nie die geld vir die meters het nie terwyl pensioentrekkers verduidelik het dat die meters meer kos as wat die pensioen is wat hulle maandeliks ontvang.

“Ons sukkel klaar om met die bietjie wat ons het oor die weg te kom,” sê ‘n pensioentrekker.

Chantelle Joubert sê haar snoepwinkel ly ook daaronder omdat die kragvoorsiener eers ‘n gesteelde kabel sal vervang sodra sy van die voorafbetaalde na konvensionele meters oorskakel.

“Ek het dié winkel onlangs weer oopgemaak nadat ek dit in Desember 2012 tydelik gesluit het toe ‘n inbraak my besigheid finansieel geknou het.”

Al probleme wat inwoners tans met die voorafbetaalde meters het, is dat voorafbetaalde koopbewyse nie maklik bekombaar is nie en dat WRPD se kantoor op Saterdae slegs ‘n uur lank oop is.

“Nou wat van die mense wat daardie tyd op Saterdae werk?” wou Joubert weet.

Chris Grobler, eienaar van WRPD, wat ingevolge ‘n lisiensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) verantwoordelik is vir elektrisiteitsvoorsiening in West Village sê dat die stelsel met die huidige voorafbetaalde meters verouderd is.

“As gevolg van die spesifieke behoeftes van ons netwerk is dit nie lewensvatbaar en koste-effektief om die huidige stelsel op te gradeer nie. Daar is bewyse dat die stelsel ook sensitief is vir weerlig, wat al in die verlede veroorsaak het dat ons verbruikers sonder elektrisiteit was en ‘n verleentheid vir ons besigheid is.”

Hy sê dat ‘n gebruiker ‘n moniteerbare meter binne sy huis teen ‘n koste van R400 per meter kan kry en dat geen installeerkoste hiervoor gehef sal word nie.

“Daar is ook geen koste om die nuwe meters te installeer nie. ‘n Terugbetaalbare deposito word egter gevra om verbruik sonder enige ekstra betaling te kan dek.”

Wat Joubert se geval betref, sê Grobler dat hulle haar tegemoet wou kom deur die meter op dieselfde dag as wanneer hulle die kabel vervang, om te ruil.

“Sy het gesê dat sy dit eers met haar man wou bespreek, maar het nog nie weer met ons in verbinding getree nie.”

Joubert sê egter dat dit onwaar is en dat hulle haar nog nie weer gekontak het nie.

Grobler sê voorts dat hulle die reg het om die meters te vervang omdat dit in Februarie 2012 deur Nersa goedgekeur is.

“Verbruikers wat dus bekommerd is oor hulle kragverbruik kan selfs reël dat dit weekliks gelees word sodat dit dan ook so betaal kan word en net soos ‘n voorafbetaalde meter hanteer word. Anders sal die fakture hulle elke maand teen die 20ste bereik sodat die uitstaande bedrae teen die 3de van elke maand vereffen kan word.”

Hou die NUUS dop vir verdere inligting oor die inwoners se misnoeë met WRPD.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button